66 Gevalle van masels reeds in die VS bevestig
Ouers is aangeraai om seker te maak hul kinders se inentingsprogramme is op datum. Die meeste gevalle wat tot dusver aangemeld is was by kinders tussen vyf en nege jaar oud.
Daar is reeds 66 gevalle van masels in die Vrystaat bevestig hoofsaaklik by kinders van vyf tot nege jaar oud.
Masels is ‘n hoogs aansteeklike virale infeksie. Simptome sluit onder meer in in ‘n loopneus, rooi uitslag, moegheid, hoes en koors.
Mondli Mvambi, woordvoerder van die Departement van Gesondheid in die Vrystaat het ouers aangeraai om seker te maak hul kinders se inenetings is op datum. Die masels-entstof is veilig en doeltreffend.
Die toename in masels-gevalle word onder meer toegekryf aan ontwrigting van inentingsprogramme teen masels tydens Covid-19.
Mvambi het ook bevestig dat die eerste masels-geval in die Vrystaat op 23 Februarie in die Lejweleputswa-distriksmunispaliteit aangemeld is. Die distriksmunisipaliteit sluit die Matjhabeng (Welkom, Virginia, Odendaalsrus en Allanridge), Nala (Bothaville, Wesselsbron), Masilonyana (Winnie Mandela, Theunissen, Verkeerdevlei, Winburg), Tswelopele (Bultfontein, Hoopstad) en Tokologo (Boshof, Dealesville en Hertzogville) munisipaliteite in.
Van die bevestigde gevalle was 12 in die Nala munisipaliteit, nege in Masilonyana, 40 in Matjhabeng en vyf in Tswelopele.



