Rybewyskaarte – dit is die plan
Die agterstand met die druk van rybewyskaarte het die afgelope maande gesorg vir groot frustrasie by motoriste wat veel langer as die gebruiklike ses weke vir hul rybewyskaarte moes wag.
Met ‘n agterstand van 733 000 rybewyskaarte teen middel Mei, en gemiddeld 12 000 nuwe aansoeke wat daagliks ontvang word, moes daar dringend plan gemaak word om die agterstand in te haal. Dit omdat die land se enigste masjien wat dié kaarte druk knaend onklaar is, soos ook in Februarie weer die geval was.
Die plan wat nou gemaak is as ‘n voorsorgmaatreël, is ‘n ooreenkoms met die staatsdrukker om rybewyskaarte te druk wanneer die land se enigste masjien wat normaalweg die kaarte druk, weer onklaar sou raak.
Barbara Creecy, minister van vervoer, het die ooreenkoms bevestig en gesê die staatsdrukker behoort in die volgende drie maande rybewyskaarte te kan druk. Die staatsdrukker druk reeds onder meer visums, paspoorte en ID-kaarte.



