Local newsNews

Waardige opvolger na die dood van VS se merkwaardige Benji

Benji se merkwaardige vermoë om biologiese vloeistowwe op misdaadtonele te kon opspoor, het in sy tien jaar diens verskeie kere gehelp om geregtigheid te laat seëvier.

Sy is net twee jaar oud, maar dié nuwe lid van die polisie se K9-eenheid in Kroonstad het groot pootspore om vol te staan – dié van haar legendariese voorganger Benji.

Soos Benji is Lady ‘n opgeleide biologiese vloeistof-opsporingshond, wat sy-aan-sy saam met adjudant-offisier Leon Strydom sal werk na die dood van Benji wat oor die Vrystaat bekend was vir sy merkwaardige vermoë om fynspore van biologiese vloeistowwe – soos bloed en semen – op misdaadtonele op te spoor.

Benji is in Oktober 2023 met klierkanker gediagnoseer en is hy oorlede.

Die wit-en-bruin border collie met sy deurdringende blou oë, was vir tien jaar ‘n legende in die Suid-Afrikaanse Polisiediens.  In sommige gevalle was Benji se bevindings die enigste beskikbare bewyse wat gelei het tot suksesvolle skuldigbevindings in sake van moord, verkragting en ander ernstige misdade. Dit danksy sy uitstekende bio-speurvernuf wat ondersoekers dikwels gehelp het om noodsaaklike DNA-bewyse te kon kry.

Benji se werk het hom selfs oor grense geneem. Saam met Strydom, is hy onder meer opgeroep om die Swazilandse Polisie te help in ‘n ingewikkelde moordondersoek waarin ‘n polisiebeampte ‘n kollega vermoor en die liggaam versteek het. Danksy Benji se vermoë, het geregtigheid geseëvier.

Benji was oorspronklik as geskenk deur Strydom se dogters aan hom gegee toe hy agt weke oud was.  Uiteindelik het hy een van die SAPD se mees vertroude viervoetige speurders geword het.

Benji, die voormalige Bio-sepurhond van die Kroonstadse K9-eenheid

Sy dood het ’n diep leemte by sy hanteerder en kollegas regoor die Vrystaat gelaat. “Hy was my kollega, my vriend, my kind,” het Strydom gesê. “Hy het gevaarlike misdadigers uit ons gemeenskappe verwyder en ’n werklike verskil gemaak, veral in sake waar kinders betrokke was.”

Vasbeslote om Benji se nalatenskap voort te sit, het Strydom in Oktober 2024 begin soek na ‘n waardige opvolger. Met die ondersteuning van die Kroonstad-gemeenskap, wat hul plaaslike K9-eenheid hoog ag, het Strydom op Lady,  ‘n Belgiese Malinois afgekom.

Adjudant-offisier Leon Stydom saam met Lady,

Sy is aan die SAPD geskenk om as Bio-hond opgelei te word. In Junie 2025 voltooi sy haar opleiding en slaag amptelik as ten volle opgeleide biologiese vloeistof-speurhond.

Met Lady aan sy sy, is Strydom gereed om die stryd teen ernstige misdaad voort te sit, en wil dié twee die standaard van uitnemendheid wat Benji gestel het, handhaaf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button