Rioolbesoedeling – kinders, voëllewe lei daaronder
AfriForum het die Moqhaka munisipaliteit versoek om dringend in te gryp in die situasie.
In die Rammulotsi-woonbuurt stap kinders daagliks deur ‘n rioolbesoedelde gebied , en die vleiland in die gebied wat eens ’n toevlugsoord vir voëllewe was, is nou feitlik dood as gevolg van hierdie rioolbesoedeling.
So sê die burgerregte organisasie AfriForum wat nou die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit versoek het om dringend op te tree teen die ernstige rioolbesoedeling wat die gemeenskappe van Viljoenskroon en Rammulotsi raak.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, het die munisipaliteit oop slote deur Rammulotsi gegrawe om rou riool sowat 3 km van die rioolaanleg na die Vredefort-pad te herlei. Hierdie praktyk het ’n direkte negatiewe impak op omliggende mielieplase, en veroorsaak ’n ernstige gesondheids- en omgewingsrisiko, sê Pretorius.
In ’n brief aan die waarnemende munisipale bestuurder van die Moqhaka-munisipaliteit, eis AfriForum die onmiddellike beëindiging van riool wat in oop slote herlei word, asook ’n dringende inspeksie by – en opgradering van – die rioolaanleg. Die organisasie wil ook hê dat ’n omgewingsimpakstudie van die betrokke vleiland en omliggende landbougrond gedoen word, om kwesbare gemeenskappe, veral kinders, se gesondheid te beskerm.
“Die situasie is onaanvaarbaar. Nie net is dit onhigiënies en vernietigend vir die omgewing nie, maar dit is ook in stryd met verskeie bepalings van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Afval (Wet 59 van 2008),” sê Pretorius. “Die munisipaliteit het ’n wetlike plig om besoedeling te voorkom en volhoubare ontwikkeling te verseker.”
AfriForum sê as die munisipaliteit versuim om spoedig op te tree, sal AfriForum die saak na provinsiale en nasionale owerhede eskaleer en regstappe oorweeg om nakoming af te dwing.



