Local newsNews

Vakansie vol raaisels: Skoliere kraak kode in nuwe Ontsnapkamer

Dit is reeds die ene bedrywigheid van nuuskieringe en avontuurlustige skoolkinders in die Ontsnapkamer by die Erfenisstigting (ES) se Toekomsbou-museumteater. Die Ontsnapkamer is die eerste en enigste Afrikaanse ontsnapkamer van sy soort en neem jou in 60 minute deur meer as 120 jaar se Afrikanergeskiedenis. Elke kamer bevat raaisels, leidrade en selfs ’n UV-lig om …

Dit is reeds die ene bedrywigheid van nuuskieringe en avontuurlustige skoolkinders in die Ontsnapkamer by die Erfenisstigting (ES) se Toekomsbou-museumteater.

Die Ontsnapkamer is die eerste en enigste Afrikaanse ontsnapkamer van sy soort en neem jou in 60 minute deur meer as 120 jaar se Afrikanergeskiedenis. Elke kamer bevat raaisels, leidrade en selfs ’n UV-lig om versteekte boodskappe raak te sien. Dit alles word ingespan om die groep na die volgende vertrek te kry, totdat hulle uiteindelik die legkaart voltooi en die “toekoms” bereik.

Op 10 Julie het drie hoërskoolgroepe die kans gewaag om te “ontsnap”. Die een groep het bestaan uit Merie en Duanè Langner, tweelingdogters van die Kultuurtuiste se besturende direkteur, dr. Danie Langner, saam met ’n groep vriende. Twee groepe van die FAK se Afrikaans-Ekspo-slypskool het ook die ES se tydreisavontuur aangepak.

Duané en ‘n vriendin soek na leidrade

“Dit is verblydend om te sien hoe jongmense die Ontsnapkamer geniet,” sê Lizette Jansen, bestuurder van die ES. “Dit is nie net ’n unieke ervaring nie, maar deelnemers stap weg met ’n nuwe waardering vir ons erfenis.”

Volgens Merie Langner was dit baie interessant om te sien hoe alles deur die jare verander het. “’n Mens kan sien hoe alles verander, die klanke, die voorwerpe. Dis werklik om deur tydperke te beweeg.”

Vir Merie se groep was die eerste kamer dadelik ’n gunsteling, maar die moeilikste een. “Die een waar jy ’n wagwoord moes uitwerk, dit was behoorlik ’n breinkrapper!” sê Nina Keyser. “Ons het sommer almal net begin rondkyk en soek, en toe op die ou end saam as ’n span gewerk. Dit was baie lekker!”

Een van die slypskoolgroepe het besondere nostalgie beleef in die 1970’s-musiekkamer, met ou musieklegendes en kinderliedjies. “Ek sal dit beslis aanbeveel vir ander jongmense,” sê M.J. du Plessis. “Dis groot pret, en dit bou en bevorder spanwerk.”

Marie en Duané Langner en van hul vriende beleef die 70’s.

Die laaste span van die dag, ’n groep slypskooldames, het boonop die dag se vinnigste tyd opgestel: nét 37 minute. “Ons daag jou en jou vriende uit om dit te kom verbeter!” sê Kristin Naudé, Ontsnapkamer-speelmeester met ’n vonkel in haar oog.

Vir enigeen wat ná die eksamenstres of vakansieverveling smag na iets nuuts, bied die Ontsnapkamer die perfekte kombinasie van avontuur, pret en erfenis.

Die Ontsnapkamer is oop:

Woensdae tot Vrydae 09:00 & 11:00
Saterdae – 09:00, 11:00 & 14:00
Besprekings: kristin@kultuurtuiste.org.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button