Local newsNews

Tweede bek-en-klouseer geval in die Vrystaat bevestig

Invoer van entstof nie volhoubaar nie.

‘n Tweede geval van Bek-en-klouseer in die Vrystaat is bevestig. Die jongste geval is in die Metsimaholo-munisipaliteit (Deneysville) aangemeld, en oor die naweek deur die Vrystaatse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkelilng bevestig.Volgens die departement hou die oorsprong van die uitbreking verband met ‘n voerkraal in ‘n aangrensende provinsie.

Die departement het bevestig dat die betrokke plaas onder kwarantyn geplaas is, en dat plase binne ‘n radius van 10km van die plaas, in kennis gestel en onder voorsorgkwarantyn geplaas is totdat ‘n oorsig gedoen is. Daar is ook met inenting op die plaas begin om verspreiding van die siekte te beperk, is gesê.Die eerste bevestigde uitbreking van Bek-en-Klouseer (BEK) in die provinsie is vroeër in die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit bevestig.

Volgens ‘n verklaring wat op 14 Julie deur die Nasionale Departement van Landbou uitgereik is, is die besmette eiendom in die Kroonstad-staatsveeartsenygebied, en is die eiendom op 8 Julie onder kwarantyn geplaas, met onmiddellike beheermaatreëls wat deur provinsiale owerhede geïnisieer is. Alle besmette en blootgestelde beeste op dié betrokke plaas is reeds ingeënt en word toesig in die omliggende gebied gedoen om die omvang van enige moontlike verspreiding te bepaal.

Geen bykomende kliniese gevalle van bek- en klouseer is sedertdien in dié gebied aangemeld nie, het die departement bevestig.

Vrystaat Landbou het te midde van kommer by veeboere sy waardering uitgespreek teenoor provinsiale veeartsenydienste en relevante owerhede vir hul vinnige reaksie en proaktiewe optrede. ‘n BEK-WhatsApp-kommunikasiegroep is in plek wat vinnige koördinering regdeur die gespletehoefvee-waardeketting moontlik maak.

Met deurlopende uitbrekings wat in aangrensende provinsies aangemeld word, het die Vrystaat tot dusver BEK-vry gebly. Friedl von Maltitz, vise-president van Vrystaat Landbou, en ook ‘n veeboer, meen die huidige ontwikkeling is “’n beduidende ekonomiese terugslag vir die betrokke boere en hul onmiddellike bure, sowel as vir die hele Vrystaatse veebedryf wat werk om aan nasionale en uitvoerstandaarde te voldoen.”

Vleispryse
Die Bek-en-klouseer uitbreking kom nadat pryse reeds laag was weens die swak ekonomie en die droogte, sê Johan Dannhauser, bees/veeboer van die plaas Goedgedacht in die Weiveld-distrik wat met Droughtmasters boer. Dannhauser sê vir die afsienbare toekoms word ‘n sterk vraag en aanbod verskil voorspel met té min diere in die mark, wat beteken dat die prys aansienlik hoër is as wat dit behoort te wees.

“Niemand weet egter wat normaal is vir die oomblik nie, want ons het van ‘n astronomiese nadeel na ‘n astronomiese voordeel beweeg wat die skerp styging in pryse teweeg gebring het.” Dannhauser sê verder dat die feit is dat vleis op die rak duur gaan bly en dat dit nie noodwendig goed is vir boere nie met die verbruiker wat gevolglik minder vleis koop.”

Vir nou is reeds ‘n skerp opwaartse styging in vleispryse van tussen 15-20% gesien wat waarskynlik nog vir die volgende ses maande die geval sal wees.

Bek-en-klouseer biosekuriteitsmaatreëls bring noodwendig ekstra koste en administratiewe las vir boere mee, maar stem Dannhauser en ander boere in die distrik saam dat die vinnige optrede veral in die Kroonstad-gebied die gewenste resultate gehad het om verdere besmetting te keer.

Met die skuif van vee wat nie nou ideaal is nie, is die speenseisoen gelukkig feitlik verby en het speenkalwers se pryse goed herstel.

Alles in ag genome gaan dit nog finansieël goed in die bedryf behalwe vir die paar struikelblokke wat nou oorkom moet word, meen Dannhauser.

So lyk die statistiek:
Suid-Afrika het teen Julie reeds 270 BEK-uitbreking, versprei oor vyf provinsies landwyd aangemeld, Van die aangemelde gevalle was die meeste in KwaZulu Natal (191), gevolg deur die Oos-Kaap (40), Gauteng (32), Noordwes (4) en Mpumalanga (3). Gegewe die omvang van die nasionale bedreiging, het Vrystaat Landbou weer ’n dringende beroep op alle veeboere in die Vrystaat gedoen om waaksaam te bly en streng biosekuriteitsprotokolle toe te pas.

“Die beste verdedigingslinie bly voorkoming op plaasvlak en volledige nakoming van die regulasies wat deur die regering uitgereik is,” is gesê. Volgens ‘n kennisgewing in die Staatskoerant wat op 13 Junie vanjaar geplaas is, en die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984), het die department weer boere, veilingshuise en spekulante gevra om:
* Beweging van gespletehoefdiere te beperk.
* Rekord te hou van alle dierebewerings en besoekers op plase.
* Streng biosekuriteitsmaatreëls in plek te hou wat ook ontsmetting van voertuie en toerusting insluit.
* Nuwe vee vir 28 dae onder kwarantyn te plaas voordat dit by bestaande kuddes gevoeg word.
* Die nodige vorms vir vervoer- en bewegingsverifikasie in plek te hê.

Vrystaat Landbou het ook ’n beroep op alle boere, veeartse, afslaers, vervoerders en ander belanghebbendes gedoen om waaksaam te bly, ten volle saam te werk met owerhede, en enige tekens van die siekte soos oormatige speekselafskeiding, mondletssels en tekens van kreupelheid onmiddellik by hul naaste staatsveearts aan te meld.

Die Minister van Landbou, John Steenhuisen het intussen gewaarsku dat die invoer van entstowwe van buurlande soos Botswana nie volhoubaar is nie.

Wat is bek-en-klouseer:
Bek-en-klouseer word deur ‘n virus veroorsaak by diere met gesplete hoewe soos beeste, skape, varke en bokke. Tipiese simptome is lusteloosheid, sere in die bek en aan die pote en oormatige afskeiding van speeksel.

Mense kan nie bek-en-klouseer kry nie, maar kan dit versprei deur voertuie, klere, hande en voete as jy met besmette diere in aanraking was.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button