Harte oop vir brood in nood
Met Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) se jaarlikse Broodjiedag word brood ingesamel vir hulle wat dit die nodigste het
Teen Vrydagmiddag was daar 711 brode ontvang vir Vrystaat Versorging in Aksie se jaarlikse Broodjiedag-projek, wat ten spyte van moeilike ekonomiese toestande baie meer is as die 535 brode wat in 2024 ontvang is
Vanjaar is Broodjiedag oor drie dae gehou, en hoewel die projek Vrydag geeïndig het, kan jy steeds Maandag enige brood of broodrolletjies vir die projek skenk deur dit af te gee by Vrystaat Versorging in Aksie se kantoor in Buitenstraat, of skakel die kantoor by (056) 811 2971 om te reël dat die brood gehaal word.
Met die projek word seker gemaak dat daar in elke huis minstens ‘n brood sal wees.

Sanette Boonzaier van VVA Parys sê daar is voortdurend nood. Daarom help enige donasie – groot of klein, mense in jou gemeenskap wat nood ervaar.


Tuisgebak, gekoop, ‘n toebroodjie of broodrolletjie – lank of rond – wat jy ookal kan gee, maak ‘n verskil. Die brode en broodrolletjies word uitgegee vir behoeftiges, families, maar ook organisasies – waar ookal hulp broodnodig is. Boonop kan die brood gevries word en gebruik word vir die VVA se sopkombuis waarmee talle in nood daagliks gehelp word met ‘n warm bord kos.
Dankie aan elkeen wie se harte vanjaar oop was vir die projek.



