Local newsNews

Die natuur leer jou – as jy bereid is om te luister

Of jy 'n leier, ouer, entrepreneur of iemand is wat net duidelikheid soek in 'n vinnig-veranderende wêreld, hierdie boek nooi jou om stil te staan, waar te neem, en te herbesin oor wat dit werklik beteken om te lei, te oorleef en te floreer.

In die natuur word meer lesse oor leierskap geleer as in ‘n raadsaal. Dit is wanneer jy stil word en bewus raak van wat die natuur leer, dat jy ontdek dat ware leierskap nie altyd in die hardste brul weerklink nie, en dat jou swakheid soms juis in jou krag/mag lê.
Uit ‘n leeftyd se ervaring in die weermag, die gevegskryt en die Afrika-bos, gee Joe Viljoen, uit sy kennis van die natuur, ‘n unieke insig van die gedragspatrone van Afrika se mees ikoniese diere wat erkende idees oor leierskap en innerlike krag troef in sy boek, Strength can be a weakness.

Van die hiëna se volharding, tot die lojaliteit van ‘n buffel gee hy interessante feite en wyshede, en antwoord vrae soos waarom die leeu ‘n leier is, wat die luiperd laat floreer, hoe saamwerk ‘n trop wildehonde laat gedy, en meer.

Die uitsonderlike manier waarop Viljoen ‘n parallel trek tussen gedragspatrone by diere en die karaktereienskappe by mense, ook waar dit kom by die werksomgewing en leierskap in ondernemings, maak die boek ‘n selfontdekkingsreis wat jou nie onaangeraak sal laat nie. Dit dwing jou tot stilte en retrospeksie om die wonder van die natuur opnuut te ontdek.

Opgedra aan sy pa wat hy op die jong ouderdom van 13 verloor het, en deur wie se oë hy die natuur leer ken het, en aan elkeen wat oor jare saam met hom kon stilword in die natuur, het Viljoen daarin geslaag om vanuit hierdie perspektief die belangrikheid van waardes soos selfdissipline, bewaring en verantwoordelikheid weer vas te lê. Gevorm deur sy eie reis van hoësport-prestasie na stilwordtye in die natuur waar hy besef het dat ware krag nie gaan oor oorheersing nie, maar oor bewustheid, verbondenheid en nederigheid. Dit is hierdie lesse wat hy deel.

Viljoen vertel dat ‘n naby-dood konfrontasie met ‘n Kaapse buffel terwyl hy ‘n kliënt beskerm het, alles vir hom verander het. Dit het sy begrip van oorlewing, leierskap en veerkragtigheid verskuif. Sedertdien lei hy nie net ander deur Afrika se ruwe landskappe nie, maar ook na ‘n beter begrip van hulself.

“Mense moet meer verstaan hoe pas die dier in by die mens,” vertel Viljoen wat die stigter van Ringkontak gevegskuns in Suid-Afrika was, self ‘n eertydse wêreld skopbokskampioen, en eienaar van die Chazen wildreservaat in die Vredefort Koepel.
Die gedagte om die boek te skryf, vertel hy, is gebore uit die terugvoer van mense wat hy oor jare op wildsafaris in Afrika geneem het.

“Daar in die stilte van die bos, leer jy mense ken, en leer jy die natuur ken,” vertel hy. Dit is daar waar hy die behoefte by mense gesien het om dié kennis van die natuur hul eie te maak.

“Ek het gesien hoe sakemanne daar in die veld die ooreenkomste in sosiale patrone tussen mens en dier ontdek, en dit op hul eie lewens, en in ondernemings begin toepas het.”

Mense kyk na diere, maar ken nie diere nie. Weet byvoorbeeld nie waarom olifante meestal voor die winter bome omstoot, of hoekom kameelperde loop soos hulle loop nie. Hoe alles uiteindelik in die natuur saamwerk. Jy sal nie weet as jy nie kan sien nie. Jy kan nie sien as jy nie weet nie. Die natuur leer jou, as jy bereid is om te luister en te leer,” sê Viljoen.

 

In die natuur het Joe Viljoen sy grootste lewens-lesse geleer.

Hoewel dit sy eerste pennevrug is, is hy reeds besig met navorsing vir ‘n opvolgboek, en is daar belangstelling in die boek ook by tersiêre instellings. Strength can be a weakness is tans net in Engels beskikbaar maar die Afrikaanse weergawe volg binnekort. Die boek is beskikbaar op Amazon, asook by Schwims Local Pharmacy Rivershed in Parys.

Strength can be a weakness is tans net in Engels beskikbaar maar die Afrikaanse weergawe volg binnekort.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button