Ouditverslae wys tekortkominge in VS munisipaliteite uit
Provinsiale toesig het klaaglik tekort geskiet, en munisipaliteite is aan hul eie lot oorgelaat te midde van ernstige operasionele tekortkominge.
Vyf van die 23 munisipaliteite in die Vrystaat het nie hul finansiële state betyds vir ouditdoeleindes ingedien nie, en nie een van die munisipaliteite wat wel verslae ingedien het, kon goeie finansiële state of prestasieverslae vir die 2023–24 Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) ouditverslag indien nie.
Munisipaliteite soos Nketoana en Maluti-a-Phofung het al vir jare agtereenvolgens afkeurende ouditmenings ontvang,
Hierbenewens het 16 munisipaliteite ongefinansierde begrotings goedgekeur en ongemagtigde uitgawes van R4.22 miljard aangegaan, sê David Mc Kay, DA COGTA-woordvoerder in die Vrystaatse Wetgewer. Hy noem dat veral die Mangaung-metro sukkel met swak inkomstehantering en begrotingsbestuur, wat ernstige vrae oor sy lewensvatbaarheid laat ontstaan.
Ten spyte van die uitgawe van ’n verbysterende R66.54 miljoen aan finansiële konsultante, het geen munisipaliteit ’n ongekwalifiseerde ouditmening ontvang nie. Boonop staan die slotbalans vir onreëlmatige uitgawes op ’n skokkende R12.52 miljard, sonder noemenswaardige pogings om dit reg te stel, benadruk Mc Kay.
Waterverliese van meer as 30% en aansienlike elektrisiteitsverliese is verdere aanduidings van die voortdurende krisis, het Mc Kay gesê.



