Sewe vas ná meer as ‘n miljoen se verlies vir vulstasie-eienaar
Daar is meer as 7 000 klagtes van diefstal en geldwassery teen die beskuldigdes.
Sewe verdagtes wat na bewering in 2022 glo die lugtyd-betalingsmasjien van ‘n vulstasie in Mahikeng waar hul werksaam was, gemanipuleer het, en so meer as R1 miljoen se verlies vir hul werkgewer veroorsaak het, het vandag in die Mmabatho-landdroshof verskyn.
Motheo David Diphoko (28), Thapelo Mokgweetsi (30), Keabetswe Mosetsanagape Keantshitse (32), Neo Jeaniffer Tshikare (36), David Paseko Obuseng (41), Dineo Brightness Sebogodi (44) en Seapei Qeen Mogotsi (49), word aangekla van diefstal en geldwassery.
Vier van die beskuldigdes is Dinsdag deur lede van die Valke se Eenheid vir Ernstige Handelsmisdaadondersoeke gearresteer, en die ander drie vandag, het polisiewoordvoerder luitenant-kolonel Tinyiko Mathebula, gesê.
Mathebula sê daar word beweer dat die beskuldigdes die lugtyd-betalingsmasjien gebruik het om weddenskapbewyse in kontant om te skakel en dit dan in hul bankrekeninge oor te plaas. Gevolglik het hul werkgewer ’n verlies van meer as R1 miljoen gely.
Na ’n ondersoek is die beskuldigdes in hegtenis geneem en aangekla op meer as 7000 aanklagte van diefstal en geldwassery.
Borgtog van R1000 elk is deur die hof aan die beskuldigdes toegestaan. Hulle sal weer op 11 September voor die hof verskyn.
Die waarnemende Hoof van die Valke in Noordwes, brigadier Georgia Moos, en die Direkteur van Openbare Vervolgings in Noordwes, dr. Rachel Makhari, het die inhegtenisneming van die beskuldigdes verwelkom.



