Speurder en nog twee gearresteer ná voertuigkaping
Die kapingsvoorval het in Julie in Klerksdorp gebeur.
Tshepo Pooe, ‘n 41-jarige speursersant van Klerksdorp en sy twee medepligtiges, Christiaan Erasmus (37) en Athini Johnson Sonamzi (29), wat tereg staan op ‘n klag van motorkaping, het Maandag, in die Klerksdorpse landdroshof verskyn. Die trio bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning op 28 Augustus.
Pooe en sy medepligtiges is Vrydag gearresteer ná intensiewe ondersoeke hulle as verdagtes geïdentifiseer het van ’n voertuigkaping wat op 19 Julie in Theunissenstraat, Klerksdorp, gebeur het.
Volgens inligting het die klaer en sy vrou in ’n oranje Ford Ranger gesit toe ’n Volkswagen Polo met onbekende manlike insittendes langs hulle stilgehou het. Die verdagtes het glo hulself as polisielede voorgestel. Die slagoffer het agterdogtig geraak en probeer vlug, maar ’n skoot is afgevuur wat die agterste band beskadig het. Die slagoffers het die voertuig verlaat en na ’n nabygeleë huis gehardloop, terwyl die verdagtes met die Ranger weggejaag het. Die voertuig is later in Leemhuisstraat teruggevind nadat dit met ’n ander voertuig gebots het.
Waarnemende provinsiale kommissaris, majoor-generaal Patrick Asaneng, het gesê hoewel dit diep teleurstellend is dat een van die verdagtes ’n polisielid is wat veronderstel is om die wet af te dwing, dit bemoedigend en gerusstellend is dat eerlike, lojale, toegewyde en hardwerkende lede optree teen misdadigers, insluitend dié in hul midde wat hulle aan misdaad sou skuldig maak.



