Dapper optrede ry swaargewapende transitorowers se plan in die wiele
“Waar die verdagtes ook al is - hulle moet weet dat hulle opgespoor sal word en die volle mag van die reg sal trotseer. Ons doen ’n beroep op alle wetsgehoorsame burgers om met inligting vorendag te kom wat sal help met die identifikasie en arrestasie van die verdagtes," het majoor-generaal Patrick Asaneng, waarnemende polisiekommissaris van Noordwes gesê.
Terwyl swaargewapende transitorowers op hul losgebrand het, het die bestuurder van ‘n transitovoertuig Maandagaand op die N4 naby Majakaneng-dorp, Mooinooi, kop gehou om die transitorowers se planne te fnuik.
Polisiewoordvoerder Sivenathi Gunya sê ’n silwer Mercedes-Benz het die transito-voertuig wat op pad na Rustenburg was, gestamp. Terwyl die insittendes van die Mercedes skote in die rigting van die transitovoertuig afgevuur het, het die transitovoertuigbestuurder daarin kon slaag om van die pad af in die bosse in te ry en by ’n myn in die omgewing uit te kom, waar SSG-sekuriteitsbeamptes hulle te hulp gesnel het.
Die brandende Mercedes-Benz van die verdagtes is later verlate langs die pad gevind.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar die ondersoek duur voort om die verdagtes op te spoor het Gunya gesê.
Majoor-generaal Patrick Asaneng, waarnemende polisiekommissaris van Noordwes het die bestuurder van die transito-voertuig en SSG-sekuriteitslede geloof vir hul dapperheid, moed en vinnige optrede.



