Nie ‘n enkele Vrystaatse dorp sonder water of rioolprobleme
Die provinsiale oorsigbesoek is naas verteenwoordigers van die onderskeie politieke partye ook deur onder meer verteenwoordigers van die provinsiale departemente van Cogta en Destea bygewoon, en moedig aanspreeklikheid teenoor die publiek aan.
Hoewel voorsien word dat werk aan Parys se watersuiweringsaanleg na verwagting teen April 2026 voltooi sal wees, is die realiteit dat selfs wanneeer die dorp se watersuiweringsaanleg weer ten volle in bedryf sal wees, die Ngwathe munisipaliteit dan steeds sal sit met ‘n tekort van ‘n geraamde sewe megaliter water per dag om aan die behoefte van sy inwoners te voorsien.
Dit het onder meer aan die lig gekom tydens ‘n veelparty wetgewende provinsiale oorsigkomitee-besoek wat Dinsdag aan die dorp gebring is.
Die komitee besoek verskeie punte in munisipaliteite reg oor die Vrystaat, en is in Parys onder meer besoek gebring aan die Fezile Dabi-stadion in Tumahole. en die rioolaanleg. Die dorp se knaende en ernstige waterprobleme wat weer oor die naweek krisisafmetings aangeneem het, het egter die komitee genoodsaak om ook die watersuiweringsaanleg te besoek.
Van die vrae wat komiteelede gehad het na aanleiding van klagtes by raadslede, was of die munisipale bestuur bereid sou wees om kraanwater te drink wat deur Ngwathe voorsien word, met verwysing na opmerkings oor die troebelheid en onaardige reuk van die water.
Ngwathe se bestuurder van waterdienste, mnr. Mokheti Phele, het egter gesê dat water wat die aanleg verlaat, voldoen aan toetse van Departement Waterwese, die distrik en Cogta.
Ook Ngwathe se Uitvoerende Burgemeester het gesê dat die water wat deur die aanleg gesuiwer word op standaard is, maar dat probleme met waterkwaliteit ontstaan wanneer die water deur die waternetwerk beweeg.
Sy sê klagtes wat op verskillende platforms gekry word oor die waterkwaliteit, is egter nie die norm nie, en is dit belangrik dat mense spesifieke areas moet aandui van waar probleme met waterkwaliteit gesien word, sodat dit opgevolg kan word.
Sy het ook genoem dat wanneer probleme met waterkwaliteit ondervind word, brandkrane gebruik word om die netwerk te spoel. ” Van waar ons begin het en waar ons vandag is, is baie werk al gedoen,” het sy gesê.


Omdat daar egter beurtwater toegepas word terwyl werk aan die suiweringsaanleg gedoen word, is daar konstante probleme in die netwerk, is aan die komitee verduidelik.
Maar die realiteit gee ‘n ander prentjie met raadslede wat oor die naweek toe mense weer met droë krane gesit het, gerapporteer het dat hul toegang tot die suiweringsaanleg geweier word, en sukkel om direkte en betroubare inligting van die munisipaliteit te kry wanneer daar waterprobleme is.
Ook die drukgroep Save Ngwathe vra lank reeds sonder sukses vir ‘n direkte klagtebank waar inwoners diensleweringsprobleme kan rapporteer en terugvoer kan kry.
Komiteelede was duidelik bekommerd oor die munisipaliteit se lang geskiedenis van waterprobleme, en ongerymdhede by die aanleg in die verlede toe ‘n kontrakteur vooruit betaal is sonder dat die werk voltooi is.
Daar is geen doekies omgedraai dat seker gemaak moet word dat kontrakteurs wat by korrupsie betrokke is, by die nasionale tesourie gerapporteer moet word.
Grootskaalse ongerymdhede by Ngwathe se watersuiweringsaanleg het in 2023 die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta), mnr. Ketso Makume na die aanleg as ‘n misdaadtoneel laat verwys.
Ondersoeke rondom korrupsie wat toe gevind is, word deur die Valke ondersoek en sal voor die hof gebring word, het beide Ngwathe se burgemeester en sy tegniese direkteur bevestig.
Komiteelede het duidelik gewys op die nodigheid van beplanning met verwysing na die tekort aan kapasiteit by die suiweringsaanleg waar vraag die aanbod oorskry, en aangedui dat aanbevelings aan die munisipaliteit gemaak sal word.

Kommerwekkend was komiteelede se opmerking dat in elke dorp in die Vrystaat water- en rioolprobleme gesien word, ten spyte van miljoene wat spandeer word.
Voortdurende ontwikkeling en populasie groei moet in ag geneem word.
Daarom is beplanning nodig, veral in ‘n dorp wat so ‘n groot toerismepotensiaal het, is gesê.
Daarom moet daar nou planne op die tafel gesit word vir hoe daar voorsien gaan word vir die 22 megaliter water wat Parys daagliks nodig het, met ‘n aanleg wat sou dit optimaal funksioneer, op die meeste slegs 15 megaliter water per dag kan lewer. Tans word net 10 megaliter water per dag voorsien, met voortdurende wateronderbrekings.


Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit het oor die naweek se waterprobleme gesê hy neem kennis van inwoners se bekommernis oor waterverspreiding.
Die munisipaliteit sê ook sy tegniese span het Sondag stappe geneem om watersuiwering by sy suiwerlingsaanleg te optimaliseer sodat water weer Maandag aan inwoners voorsien kon word. Daar is ook gewaarsku dat regstappe geneem sal word sou mense met infrastruktuur peuter, of vals en misleidende inligting oor die munisipaliteit versprei.



