Local newsNews

Van koek tot kanonknal vir groot makietie

Kruger 200-makietie: sorg vir vol feesprogram

Op Erfenisdag 24 September word die perde opgesaal, die kanonne gelaai en die pluiskuile afgestof vir ’n presidensiële makietie soos min by die Voortrekkermonument in Pretoria om die 200ste herdenking van Paul Kruger se geboorte in 1825 af te  skop.

Volgens Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en toerisme van die Kultuurtuiste, word geen moeite ontsien om dié openbare vakansiedag onvergeetlik te maak nie. “Dit is sekerlik een van die grootste jare vir óns geslag. Afrikaans 100, GRA 150 en nou Kruger 200. Ons gaan nooit weer die
geleentheid hê om geskiedkundige geleenthede soos dié in een jaar te gedenk nie.”

Volgens Brand is die dag se program só saamgestel om iets vir die hele gesin te bied. “Die Kruger 200-makietie is ’n samevloeiing van die statigheid
wat ’n president betaam en ’n eietydse speelsheid. Boeremusiek en Volkspele sal oudergewoonte deel van die program wees, maar die aanbod is groter as ooit: 200 stalletjies, tientalle historiese kanonne wat afgevuur gaan word, ’n besonderse Kruger-toneelstuk, die brons Kruger-standbeeld
wat na Orania vertrek, en nog vele meer.”

Vir die kleinspan skop die dag af met ’n Kruger-kleurloop (“colour run”), Kruger-skattejag en ’n inkleurkompetisie. Optredes deur die Kierang-buikspraakpoppe, Tant Toeta kom gooi ’n draai en Kierang kom skinder oor Oom Paul se tweeling, gaan oud en jonk met humor en nostalgie vermaak.
“Voeg hierby ponieritte, stokbrood maak, kameelritte, trapkarretjies, ’n treintjie, ‘Bungee’-trampolien, kettieskiet, gesigverf, ’n springkasteel en selfs honde-, perde- en brandweerdemonstrasies, en jy’t ’n wenresep wat die kleinspan heeldag besig sal hou.”

Die Voortrekkermonument in Pretoria is in die gees van lente kleurvol getooi in aanloop tot die maand lange 200ste herdenking van Paul Kruger, president van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), se geboortedag op 10 Oktober 1825. Dit is die eerste keer sedert die jare tagtig wat die Monument op dié manier versier word.

Terwyl die jongspan speel, kan die volwassenes die Monument verken, Tant Gezina se teetuin en mark in die Liedjietuin besoek, die Voortrekkers se opedag meemaak, by die stalletjies snuffel of die Kruger-toneelstuk in die Voortrekkersaal bywoon. Die Kruger-sterftekamer in die Kruger-galery en Kruger-wisseluitstalling in die Senotaafsaal is beslis ’n besoek werd.

Pa kan hom op sy beurt verkyk aan die veteraanmotors van die Pretoria Old Motor Club.

“Nadat die presidentspaar per koets arriveer, is ’n kleurvolle ZAR-kolwyntjiekoek, koffie en Kruger-knertsies op die spyskaart, gevolg deur ’n ‘staatsrede’ en afvuur van voorlaaiers en kanonne – in die  kleure van die Zuid-Afrikaansche Republiek,” sê Brand. ’n Spesiale groeteboodskap deur dr. Danie
Langner vorm deel van die middagprogram voordat die Kruger-ewebeeld op reis na Orania vertrek.

“Die hoogtepunt van die dag is ’n optrede deur Steve Hofmeyr vir ’n skamele R20! Ons word te midde van die promotor-polemiek oorval deur navrae van mense wat wonder of dit nie ’n slenter is, óf dat die optrede gekanselleer gaan word nie. Beslis nie! Feesgangers kan hul vere regskud vir ’n uithalervertoning soos net Steve kan en dit is die perfekte afsluiting van ’n dag gevul met geskiedenis, taal, trots en tradisie,” sê Brand.

Moenie dié dag vol volksvermaak en kultuurerfenis misloop nie. Kaartjies en die volledige program vir die dag is beskikbaar by https://vtm.org.za/kruger-200/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button