Speursersant voor hof ná sy glo geld eis om saak te laat ‘verdwyn’
Waarnemende provinsiale kommissaris waarsku weer dat korrupsie nie geduld sal word nie.
Die Waarnemende Provinsiale Polisiekommissaris, Majoor-Generaal Patrick Asaneng, het beklemtoon dat korrupsie binne die geledere van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) nie geduld kan word nie. Dit volg na die inhegtenisneming van ’n 49-jarige sersant, Alleta Sentry, op aanklagte van korrupsie.
Sentry, wat aan die Mothotlung-speurdiens verbonde is, is op 10 September deur die Provinsiale Eenheid vir Anti-Korrupsie-ondersoeke (ACIU) gearresteer. Sy het die volgende dag in die Garankuwa-landdroshof verskyn, waar sy borgtog van R2000 toegestaan is. Die saak is uitgestel tot 24 Oktober.
Na bewering het Sentry R1 500 van ’n beskuldigde in ’n dronkbestuursaak geëis in ruil daarvoor dat die saakdossier “verdwyn”. Die wetsgehoorsame burger het egter die beweerde omkopery aan die ACIU gerapporteer, wat tot Sentry se inhegtenisneming gelei het.
Majoor-Generaal Asaneng het die publiek verseker dat korrupsie onder SAPD-lede nie ongesiens sal verbygaan nie:
“Die regering en burgers van Suid-Afrika plaas hul vertroue in lede van die SAPD om hul pligte met moed, integriteit en eerlikheid uit te voer. Wanneer ’n lid betrokke raak by misdaad of korrupsie, is dit nie net ‘n verleentheid en teleurstellend nie, maar dit skaad ook die beeld van die SAPD en hardwerkende, eerlike en toegewyde polisielede, en ondermyn die gemeenskap se vertroue in die polisie. Die arrestasie moet gesien word as ‘n duidelike waarskuwing dat korrupsie selfs in eie geledere nie geduld sal word nie,” het Asenang gesê.



