Op pas vir misdadigers wat met lang vingers kom ‘huis kyk’
“Om ’n huis te koop is ’n groot belegging en verbintenis. Om sekuriteit ernstig op te neem en vir nodige verbeteringe te begroot, is noodsaaklik vir gemoedsrus,”

‘n Vermeende huiskoper wat in Januarie vanjaar ‘n egpaar wreed met ‘n mes in hul huis vermoor het, en onlangs in die Pretoriase Hoë Hof tot twee keer lewenslange gevagenisstraf gevonnis is, het weer die fokus geplaas op die nodigheid dat beide kopers en verkopers se veiligheidheid en sekuriteit eerste gestel sal word.
“Hou in gedagte dat om ’n oop huis of ‘Skoudag’ te hou ongelukkig beteken dat jy moontlik jou deure oopmaak vir potensiële inbrekers,” sê Charnel Hattingh, Groepshoof van Bemarking en Kommunikasie by Fidelity Services Group.
Dit gebeur ook gereeld dat misdadigers hulself as sogenaamde huiskopers voordoen en hulself dan aan waardevolle items in die huis help terwyl daar huis ‘gekyk’ word.
Maak seker jy tref voorsorg om jou huis en waardevolle items teen diefstal te beskerm,
- Stel jou privaat sekuriteitsdiens in kennis as jou huis op skou sal wees. Patrollies in die omgewing van jou huis kan help om verdagte bewegings op te merk en te rapporteer. .
-
Verseker dat die agent toegang het tot paniekknoppies en noodkontakte van jou sekuriteitsverskaffer.
-
Moenie ekstra sleutels sigbaar of maklik bereikbaar laat nie.
-
Sluit waardevolle items weg wat maklik in ’n handsak of sak gesteek kan word – laaie en kaste kan vinnig deursoek word deur misdadigers wat hul as voornemende huiskopers sou voordoen. .
-
Berg groter toerusting wat nie nodig is vir die skou nie, sodat dit nie later geteiken word nie.
-
Maak gordyne en blindings oop of sit ligte aan om agterdogtige aktiwiteit te ontmoedig.
Eiendomsagente en huiseienaars wat vir ’n skoudag toesig hou, moet die volgende veiligheidswenke in gedagte hou:
-
Waar moontlik moenie die voordeur oop laat terwyl ’n besigtiging plaasvind nie. Maak seker interkoms, klokkies en buzzers werk reg.
-
Vra besoekers om by jou te bly terwyl die huis besigtig word om te verhoed dat iemand alleen rondbeweeg.
-
Oorweeg “op afspraak”-besigtiging om oorvleueling van groepe te vermy.
-
Vra besoekers om ’n besoekersboek te teken of eers buite te wag indien daar reeds ’n groep binne is.
-
Vind uit of die sekuriteitsmaatskappy mobiele paniekdienste aanbied vir gebruik tydens n skoudag.
Hattingh sê voornemende kopers moet kritiese sekuriteitsvrae vra voordat hulle ’n aanbod aanvaar. “Jy het die reg om te vra oor plaaslike misdaadsyfers, tipes voorvalle, en die teenwoordigheid van sekuriteitsverskaffers in die area. Terwyl eiendomsagente sekere inligting kan voorsien, bied direkte gesprekke met inwoners baie waardevolle insig,” verduidelik sy.
Sy beveel aan dat kopers met huiseienaars, bure, inwonersverenigings, huiswerkers en sekuriteitspersoneel gesels wat jou ‘n meer volledige prentjie van die veiligheid van die omgewing sal gee.
“Wanneer jy ’n eiendom in ’n kompleks oorweeg, let op hoe toegang beheer word en hoe maklik voetgangers toegang kan kry,” sê Hattingh.
“Kyk of enige sekuriteitsinstallasies opgradering of vervanging benodig, en bereken hierdie koste in jou aanbod. Perimetersekuriteit – mure, heinings, hekke en interkoms – is jou eerste verdedigingslinie en moet in goeie toestand wees.”



