Skiellike opskorting van padonderhoudsprogram bevraagteken
Daar is veral kommer oor die R26 tussen Ladybrand en Hobhouse en die R103 tussen Warden en Vrede.
Die DA in die Vrystaat sê dringende vrae sal gevra word aan die LUR vir Paaie en Vervoer, mnr. Jabu Mbalula, oor die skielike opskorting van die provinsie se padonderhoudsprogram met die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) in die Oos-Vrystaat.
Die party sê die aankondiging weerspreek die departement se verslae aan die Portefeuljekomitee vir Paaie en Vervoer, wat aangedui het dat die slaggat-uitwissingsprogram begin het om positiewe resultate te toon.
Die DA sê ook dit bevestig die kommer dat stadige betalings deur die departement ’n groot invloed het op padinfrastruktuurprojekte, wat dikwels opgraderings en instandhouding vertraag.
“Dit is onaanvaarbaar dat, terwyl die SUT vordering maak om beide die metode en die materiaal wat gebruik word vir slaggateherstel te verbeter, hulle nou meegedeel word dat die program opgeskort word weens die departement se onvermoë om betalings te maak en die poging om verdere kostes te vermy,” het die DA gesê.
Die DA gaan eis dat die departement die slaggate-uitwissingsprogram onmiddellik herstel en ’n duidelike plan aanbied vir deurlopende instandhouding om die veiligheid van padgebruikers te verseker en die provinsiale ekonomie te beskerm.
Die party sê ook hy sal voortgaan om die departement te dwing om meer paaie aan SANRAL oor te dra.



