Slagoffers beroof ná Facebook-advertensies: Twee gevonnis
Na aanleiding van die voorval is 'n ernstige waarskuwing weer tot die publiek gerig om bedag te wees op kuberbedrog wat daagliks toeneem.
Twee mans wat deel was van ‘n sindikaat wat niksvermoedende slagoffers deur middel van Facebook-advertensies vir motors en taxi’s na persele in Jouberton gelok en dan beroof het, is uiteindelik in die Stilfontein-streekhof skuldig bevind aan diefstal.
Die hof het Cleopas Msipa (51) en Tshepiso De Beer (46) Dinsdag, 29 September elk tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis. Die vonisse is in geheel opgeskort vir vyf jaar.
In die hof is gehoor hoe die slagoffers deur die advertensies na die betrokke persele gelok is waar hulle deur ’n groep mans genader is wat hulle valslik as polisielede van Potchefstroom geïdentifiseer het. Die slagoffers is dan van mekaar geskei en ondervra, waarna hulle meegedeel is dat gouddraende materiaal of diamante op die perseel ontdek is.

Die slagoffers is dan met arrestasie gedreig, en gedwing om geld te oorhandig of fondse uit hul bankrekeninge oor te plaas. In sommige gevalle is hul bankkaarte afgeneem en by tavernes en ander ondernemings gebruik om transaksies te doen.
Die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad het in Maart 2023, in samewerking met Misdaadintelligensie, ’n lokval gestel wat tot die inhegtenisname van agt verdagtes gelei het.
Verdere ondersoekwerk en uitkenningsparades het die verdagtes daarna met bykomende sake verbind waarin dieselfde modus operandi gebruik is.
Die saak teen die oorblywende drie beskuldigdes is tot Woensdag, 21 Oktober uitgestel.
Luitenant-generaal Arthur Adams, provinsiale polisiekommissaris in Noordwes, het speurkonstabel Thabiso Pheela, die ondersoekbeampte, geloof vir sy deeglike ondersoek wat daartoe gelei het dat die beskuldigdes met die ander sake verbind kon word.
Adams het ook die multidissiplinêre span bedank vir hul toegewyde werk om te verseker dat die beskuldigdes voor die hof gebring word.
Adams het verder ook ‘n dringende waarskuwing tot die publiek gerig om uiters versigtig te wees wanneer daar op advertensies op sosialemediaplatforms reageer word, veral dié wat die verkoop van voertuie en ander waardevolle items adverteer.
Die egtheid van verkopers en transaksies moet eers bevestig word voordat enige betalings gemaak of persoonlike en bankbesonderhede gedeel word, het Adams gemaan. Misdadigers gebruik toenemend sosiale media-advertensies om niksvermoedende slagoffers te bedrieg, en word soortgelyke voorvalle daagliks by die polisie aangemeld.



