Familie Gesondheidsdag spreek groot behoefte aan
Bywoning van die dag het die geweldige behoefte aan bekostigbare gesondheidstoetse uitgewys en sal Rotary Parys poog om voortaan die gesondheidsdag meer gereeld aan te bied, het Rotary-president Sandra Uys gesê.
Rotary Parys het vanjaar vir die derde jaar agtereenvolgens ‘n familie gesondheidsdag in samewerking met die Hervermde Kerk en die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens aangebied met die hulp van rolspelers wat hul dienste gratis vir die gemeenskap die dag beskikbaar gestel het.
Van die gesondheidstoetse wat beskikbaar was, was bloeddruk en cholesterol toetse, suikertoetse, basiese tandheelkundige ondersoeke, Oogtoetse, gehoortoetse, borsondersoeke, bewusmaking van gehoorgestremdhede, en die voordele van die aanleer van gebaretaal.,bewusmaking van epilepsie, hiperbariese terapie en die voordele daarvan, noodhulpdemonstrasies, en die fokus op geestesgesondheid met 24 uur hulp wat beskikbaar is. Daar kon ook die dag bloed geskenk word by die Bloeddiens se mobiele skenkerskliniek.



Naas die gesondheidstoetse en noodhulpdemonstrasies deur Community Emergency Response Team (CERT), het kinders geesdriftig deelgeneem aan Fast Heroes se inkleurkompetisie wat die fokus geplaas het op beroerte en hoe kinders die lewensvaardigheid geleer kan word van wat gedoen moet word in geval van nood sou iemand na aan hulle ‘n beroerte kry.

Op die bedrywige kerkterrein kon gesmul word aan die lekkerste mini-basaar lekkertes en was daar pretaktiwiteite vir die kinders, en treintjieritte wat oud en jonk vermaak het.



