Local newsNews

Klipkerk-orrel jubel Sondag oor 50 jaar

Die NG Klipkerk in Vredefort se orrel is vanjaar 50 jaar oud en het 'n luisterryke geskiedenis wat Sondag deur die gemeente gevier word saam met die begaafde orrelis Winand Grundling.

Die ikoniese orrel van die Vredefort Klipkerk vier vanjaar ’n goue mylpaal – ’n halfeeu van lof en musiek! Die groot feesviering vind plaas tydens die gemeente se oggenddiens op Sondag 12 Oktober om 09:00, wanneer die kerk se galery letterlik gaan weerklink as die befaamde Winand Grundling self agter die klawers inskuif.

Hierdie driemanuaal Fehrl Roeleveld-meesterstuk het die toets  van tyd deurstaan. Die orrel is in 1975 onder die wakende oog van die bekende prof. Albert Troskie op die galery geïnstalleer en geregistreer. Vandag – ’n halfeeu later – klink hy steeds so nuut en kragtig soos op sy eerste dag.

Skade wat jare gelede deur  weerlig veroorsaak is, is onder die fyn hande van orrelbouer en stemmer Archie Devere herstel tot splinternuwe glorie. Met sy
2 026 pype is hierdie orrel nie net ’n instrument nie, maar die ware hartklop van die gemeente.

Generaal C.R de Wet se bydrae tot die gemeente-orrel

Interessant is dat generaal C.R. de Wet destyds ook op die kerkraad van die NG gemeente Vredefort gedien het voordat hy kabinet toe is. Ná die Tweede Vryheidsoorlog, waarin die gemeente se eerste harmonium verwoes is, het hy die helfte van ’n nuwe harmonium betaal (30 pond). Die nuwe harmonium het in 1904 begin diens doen in die gemeente. Die ou orreltjie is tot in 1931 gebruik, toe ’n pyporrel vir die nuwe kerkgebou
aangekoop is.

Die inwyding van dié orrel was in Maart 1931.

Die NG Klipkerk-orrel vorm vandag ’n onmisbare deel van elke erediens én van die konserte wat in die pragtige kerkgebou aangebied word. Gereeld is dit die talentvolle Erna Rademan en haar mededirigent van die Deo Gloria-koor, Marli Krüger, wat die klawers laat jubel.

Erna beskryf dit raak:  “Die orrel behoort eintlik aan die hele gemeenskap – hy is gebou omte jubel en te juig!” ’n Feesdiens vol vreugde

Die feesdiens-tema is “In verwondering oor God se genade” en beloof om vol jubelende orrelspel en lofprysing te wees.

Gemeentelede, bure, vriende en musiekliefhebbers uit Parys en Vredefort word hartlik genooi om deel te kom hê. Dit beloof om ’n uitbarsing van vreugde en
dankbaarheid te wees.

Winand Grundling

Winand, wat tans met sy nuwe produksie “Aanskou die mens” tydens Aardklop optree (met teks deur sy ewe bekende broer, Erns Grundling, en voordrag
deur Johann Nel), is geliefd  vir sy unieke “orrelstories”. Sy improvisasies bring groot historiese oomblikke, klassieke temas en selfs kontemporêre musiek tot lewe – altyd met ’n vonk van inspirasie.

Kom luister en vier saam!

Die Vredefort Klipkerk se orrel is nie net 50 jaar oud nie – dit is steeds ’n jong en jubelende stem van dankbaarheid!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button