Local newsNews

Motoriste gewaarsku: Wetteloosheid op Gauteng-paaie sal nie geduld word nie

In 'n poging om wetteloosheid op Gautengse paaie aan te spreek, is honderde boetes die afgelope week geskryf, en is gewaarsku dat motoriste nog skerper optrede teen wetsoortreders op die provinsie se paaie kan verwag.

Die Gautengse Padverkeersinspektoraat (GTI) se verskerpte optrede teen padoortreding toon merkbare resultate ná ’n week van hoë-impak stop-en-deursoek-operasies regoor die provinsie. Die inisiatief vorm deel van Gauteng se breër strategie om misdaad te bekamp, wetstoepassing te versterk en padveiligheid te verbeter.

Tussen 29 September en 5 Oktober 2025 het GTI-beamptes verskeie operasies in alle vervoerkorridors van die provinsie uitgevoer. Tydens hierdie optredes is honderde verkeersboetes uitgereik aan oortreders, voertuie is van die pad verwyder weens nie-padwaardigheid, en arrestasies is gemaak vir ernstige verkeersoortredings en pogings tot omkopery.

In totaal is meer as 900 handgeskrewe boetes uitgereik, terwyl nog 1 101 boetes elektronies verwerk is met behulp van die GTI se e-Force-toestelle.

’n Totaal van 108 voertuie is van die pad verwyder weens nie-nakoming van veiligheidsregulasies, en 53 voertuie is op beslag geneem vir ernstige oortredings. Beamptes het ook ’n kommerwekkende vlak van onwettige bedrywighede ontbloot: met 314 minibus-taxi-bestuurders wat  sonder geldige bestuurslisensies gery, terwyl 127 minibusse sonder lisensieskyfies betrap is.

Verskerpte wetstoepassing op Gauteng se paaie moet wetsoorrtreders vasvat.
Wetstoepassers het die afgelope week verskeie boetes geskryf vir oortreders op Gautengse paaie.

Altesaam 83 minibusse is van die pad verwyder weens nie-nakoming. In twee afsonderlike voorvalle is ’n motoris in hegtenis geneem vir poging tot omkopery, en nog een vir dronkbestuur.

Die Gautengse LUR vir Paaie en Vervoer, mev. Kedibone Diale-Tlabela, het die GTI se onwrikbare toewyding geloof en beklemtoon dat wetsoortreding nie geduld sal word nie.

“Ons neem ons paaie terug,” het sy gesê. “Ons doen dit om orde te herstel en dissipline op ons paaie in te bring – in belang van almal se veiligheid.”

Sy het verder bevestig dat onpadwaardige voertuie van die pad verwyder sal word en dat onwettige operateurs se voertuie in beslag geneem sal word.

Die GTI, wat uit 96 toegewyde beamptes bestaan, sal voortgaan om wetgehoorsaamheid af te dwing, padveiligheid te bevorder en onwettige bedrywighede uit te roei as deel van die provinsie se verbintenis tot wet en orde.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button