Kyk uit vir dié gesteelde rolstoele
Die rolstoeldiewe het met 'n slim slenter drie rolstoele by die hospitaal gesteel.
Die publiek en veral tweedehandse handelaars word gevra om op die uitkyk te wees vir drie rolstoele wat gisteraand by die Parys Distriks-hospitaal gesteel is. Die rolstoele is gemerk met die strepieskode (bar code) van die Departement van Gesondheid.
Enigeen wat ooggetuie was van die diefstal of wat moontlik inligting het wat kan lei tot die opspoor van die rolstoele en inhegtenisname van die skuldiges, word gevra om die inligting deur te gee na 066 476 0775, die hospitaal by (056) 816 2100 of by Parys SAPD.
Die voorval het volgens die hospitaalbestuur omstreeks 21:30 Vrydagaand gebeur toe die verdagtes by die hospitaal se Ongevalle-afdeling gevra het vir ‘n rolstoel om ‘n pasiënt kwansuis na die Ongevalle-afdeling te kan bring. Ná ‘n paar minute het die verpleegsuster onraad vermoed toe sy nie die pasiënt of die rolstoel kon kry nie. Die klerk aan diens het ook bevestig dat daar nie ‘n pasiënt geregistreer is nie.
Daar is toe ontdek dat drie rolstoele gesteel is.
Die rolstoele is nog splinternuut en is onlangs aangekoop.
Wees bedag daarop sou die skuldiges probeer om die rolstoele te verkoop, of as jy mense onder verdagte omstandighede met die rolstoele sou sien.



