Hou jou eiendom en gesin veilig wanneer jy aan jou huis laat werk
Met die Feesseisoen wat nader kom, en misdaad wat tradisioneel dan styg, is dit nodig dat jy ekstra waaksaam moet wees.
Met die feestyd om die draai en huiseienaars wat tradisioneel dié tyd van die jaar opknappingswerk aan hul huise laat doen, of skoonmaak en herstelwerk doen,, is dit belangrik om te onthou dat hierdie verbeterings ook verhoogde sekuriteitsrisiko’s kan inhou.
Charnel Hattingh, Groepshoof van Bemarking en Kommunikasie by Fidelity Services Group, doen ’n beroep op huiseienaars om waaksaam te bly gedurende hierdie tyd.
’n Betroubare kontrakteur behoort verwysings te kan gee en is dit raadsaam dat jy hierdie kontakte nagaan, voordat jy enige kontrak teken, sê Hattingh. “Jy kan ook die maatskappy of individu aanlyn ondersoek vir moontlike rooi vlae – soos onvolledige kontakbesonderhede of die afwesigheid van ’n amptelike webblad.
Huiseienaars kan ook waardevolle inligting kry deur aanlyn soektogte, soos vorige kliënte se ervarings of projektevaluasies. Dit kan probleme ontbloot wat nie altyd in formele verwysings genoem word nie – byvoorbeeld swak vakmanskap in loodgieterswerk, teëls of algemene afwerking.
Wanneer kontrakteurs, werkers of skoonmaakspanne op jou perseel toegelaat word, bring dit buitestaanders in aanraking met jou huis en roetine. Sonder behoorlike beplanning kan dit jou kwesbaar laat vir geleentheidsmisdaad.
🔒 Belangrike sekuriteitswenke
• Gaan jou kontrakteurs deeglik na
Kontroleer verwysings, aanlyn profiele en vorige werk. Let op vir waarskuwingstekens soos swak resensies of onduidelike kontakbesonderhede.
• Weet wie op die perseel werk
Vra of werkers permanent of tydelik is. Maak seker dat toesighouers duidelik geïdentifiseer is en teenwoordig bly.
• Vertrou jou instink
As ’n kontrakteur onbetroubaar of ontwykend voorkom, oorweeg dit om iemand anders te gebruik. Hou kommunikasie deursigtig met ’n vaste kontakpersoon.
• Beveilig jou stelsels eerste
Voordat werk begin, maak seker jou alarms, elektriese heinings, CCTV en ander sekuriteitstelsels is aktief en werk behoorlik.
• Beskerm jou waardevolle items
Sluit waardevolle besittings weg, steek ekstrasleutels weg en beperk toegang tot slegs die nodige areas.
• Hou paniekknoppies binne bereik
Maak seker alle gesinslede weet waar die paniekknoppies is en hoe om dit in ’n noodgeval te gebruik.
• Gebruik troeteldiere as afskrikmiddel – veilig
Waghonde kan doeltreffend wees, maar sorg dat hulle veilig is en nie vir werkers ’n gevaar inhou nie.
• Oorweeg tydelike sekuriteit
Huur ’n tydelike wag in gedurende opknappingstydperke – veral wanneer hekke of deure dikwels oopstaan.



