Man wat homself oorgee ná plaasaanval steeds in aanhouding
Die man wat voorheen op die plaas gewerk het, sal hierdie week weer voor die hof verskyn op klagte van huisroof.
Die man wat homself by die Parys-polisiestasie gaan oorgee het ‘n dag na ‘n plaasaanval net buite Parys langs die R500., sal in aanhouding bly tot sy volgede hofskyning Woensdag, 22 Oktober in die Potchefstroomse landdroshof.
Malandela George Mbela (48) het verlede week vir die eerste keer in die hof verskyn op aanklagte van huisroof nadat hy op 12 Oktober na bewerig ’n 70-jarige boer, sy 68-jarige vrou en hul 34-jarige dogter op hul plaas langs die R500 (Parys/Fochville)-pad in die Buffelshoek-gebied beroof het.
Hy is op 13 Oktober in Parys in hegtenis geneem.
Na bewering het Mbela, wat voorheen op die plaas gewerk het, die boer se vrou en dogter Sondagoggend, 12 Oktober tussen 07:30 en 08:00 in ’n stoorkamer oorweldig en aangerand voordat hy hulle daar toegesluit het. Hy het daarna na die woonhuis beweeg waar hy die boer oorweldig en aangerand het, en vervolgens met die egpaar se Toyota Hilux-bakkie van die toneel gevlug.
Die vroue kon kort ná die voorval ontsnap en het die polisie en buurplase in kennis gestel. Die Hilux is ‘n halfuur na die aanval langs die Weiveld-pad opgespoor, maar die verdagte het dit verlaat en te voet gevlug, sê koloel Adéle Myburgh.
Die boer en sy gesin is na ’n nabygeleë hospitaal geneem vir mediese behandeling. Die boer is opgeneem, maar die volgende dag ontslaan.



