Local newsNews

Hooggeregshof sê môre oor administrateur

Die dorpe Parys, Vredefort, Koppies, Heilbron en Edenville vorm deel van die Ngwathe Plaaslike munisipaliteit.

As AfriForum se aansoek in die Vrystaatse Hoë Hof môre (22 Oktober) slaag, kan ‘n vroeëre hofbeslissing om dié munisipaliteit onder provinsiale administrasie te plaas, en die munisipaliteit se raad te ontbind, dalk binne drie maande realiseer. Slaag die aansoek ingevolge artikel 18(3) van die Wet op Hoër Howe 10 van 2023 egter nie, sal inwoners van Parys, Vredefort, Koppies, Heilbron en Edenville moet wag vir die afhandeling van ‘n lang en uitgerekte appèlproses wat tot drie jaar kan sloer.

Regter J.P. Daffue se bevel, wat in Junie in die Vrystaatse Hoë Hof in die guns van AfriForum gemaak is, kon na twee maande nog nie tot uitvoer gebring word nie, omdat die munisipaliteit en sy munisipale bestuurder, dr. F.P. Mothamaha, ‘n petisie tot die Appèlhof gerig het kort ná die Hooggeregshof ‘n aansoek om verlof tot appèl van Ngwathe, die raad en die munisipale bestuurder teen Daffue se beslissing van die hand gewys het. Die Hooggeregshof het in sy uitspraak bevind dat dit onwaarskynlik is dat ‘n ander hof tot ‘n ander beslissing sou kom.

In die lig van die appèlproses het niks nog verander ten opsigte van die bestuur van die Ngwathe Munisipaliteit nie, en die raad beskik steeds oor sy bevoegdhede soos voor Daffue se uitspraak in die artikel 139-aansoek wat AfriForum in Desember 2024 gebring het om die munisipaliteit onder administrasie te plaas.

Marjorie van Schalkwyk, AfriForum se prokureur van rekord, verduidelik dat die doel van AfriForum se artikel 18(3)-aansoek is om die hof te vra om Daffue se bevel onmiddellik in werking te stel terwyl daar gewag word op die uitkoms van die appèlproses.

Met ‘n petisie tot die Appèlhof moet twee regters besluit of die saak wel deur die hof aangehoor sal word, aldan nie. Slaag die petisie, sal die saak na alle waarskynlikheid eers in 2027 voor die Appèlhof dien, en sal die uitspraak van die Appèlhof dan afdwingbaar wees. Slaag die petisie nie, of sou die Hooggeregshof die artikel 18(3)-aansoek goedkeur, herleef Daffue se beslissing.

“Dit gaan egter nie net oor die ontbinding van die raad nie,” sê Van Schalkwyk. “Die artikel 18(3)-aansoek gaan ook oor inwoners se reg op basiese munisipale dienslewering.”

Sy sê dit kan selfs gebeur dat die 2027-munisipale verkiesing tot gevolg sal hê dat ‘n nuwe raad in elk geval saamgestel word voordat die appèlproses afgehandel is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button