Margaret Gardiner-ontwerp – die voltooiing van ‘n sirkel
Tienie Boshoff is ook verantwoordelik vir die uitrustings van vyf van die finaliste by vanjaar se glanskroningsaand van Mev SA.
Verskeie ontwerpe van Tienie Boshoff is vanjaar onder die uitrustings van die room van die land se ontwerpers, wat gesien sal word by die kroning van Mev. SA op 14 November by Emperors Palace.
Tienie wat die afgelope 11 jaar in Parys gevestig is, klee vyf van vanjaar se 30 finaliste vir die glansgeleentheid, en is verantwoordelik vir die uitrusting van die huidige Mev. SA, Erin Jane Miller, die rokke van twee van vanjaar se beoordelaars, Jacqueline Ferns en Matapa Maila, en Jo Judnick-Wilson (Mev. SA 2022) se uitrusting vir die kroningsaand.
Uitrustings by skoonheidskompetisies het van jongs af ‘n bekoring vir hom ingehou, vertel Tienie.
Om sy studio van Pretoria na Parys te skuif was destyds ‘n logiese keuse weens die dorp se sentrale ligging, maar is hy eintlik ‘n Vrystater in murg en been wat op Theunissen gematrikuleer en mode-ontwerp studeer het.
Bekendes reis van oral oor na sy studio in Parys aan die soom van die Vaalrivier. Een van die groot hoogtepunte in sy loopbaan is die eer wat hom vroeër vanjaar te beurt geval het om ‘n rok vir ‘n fotosessie van die voormalige Suid-Afrikaanse skoonheidsikoon, Margaret Gardiner, te kon ontwerp.
Gardiner bly deesdae in Los Angeles en was Suid- Afrika se eerste skoonheid om die Mej. Heelal-kroon te dra.
Haar kroning in 1978 was ook die jaar waarin Tienie gebore is.
Haar besoek aan haar geboorteland het saamgeval met die bekendstelling van haar boek, Damaged Beauty: Joey Superstar, in Maart vanjaar.
“Vir my was die ontwerp van Gardiner se rok die voltooiing van ‘n sirkel,” sê Tienie.

Dit was egter sy ma wat ‘n groot rol gespeel het in sy loopbaan, vertel hy.
“Ek het dikwels gekyk hoe sy naaldwerk doen, en was gefassineer met wat sy en my ouma met die naaimasjiene op die plaas in Theunissen kon maak.”
Sy eerste naaldwerkitem was ‘n speldekussing vir sy ma – ‘n kosbare kleinood in haar huis in Rustenburg.
Vandag is daar niks lekkerder as wanneer sy ma gereeld oor ‘n Desember kom kuier, gesels Tienie, en hy vir haar ‘n paar bloesies kan maak.
Tienie se romantiese aanslag in sy ontwerpe is ook weer vanjaar gesien in van die rokke by Hoërskool Parys se matriekafskeid.
“Wanneer ‘n kliënt stralend gelukkig soos ‘n dogtertjie voor die spieël in die rondte draai in haar rok, is dit die wow-oomblik wat die ure en nagte se werk die moeite werd maak,” sê Tienie. Elke handgemaakte uitrusting – ‘n verlenging van die unieke persoonlikheid van die vrou vir wie hy die rok ontwerp.
Saam kry hy en sy assistent, Andronica Masilo, wat al jare vir hom werk, dit reg om elke bruid, elke meisie en elke skoonheid met wie hy werk, soos ‘n prinses te laat voel.

Sy gunsteling ontwerpers is Zuhair Murad en Elie Saab.



