Koos sit kilo’s op sy tekkies vir eerste straatmyl
Koos se hardloopdrome wat nooit as kind verwesenlik kon word nie, is deur 'n gemeenskap se omgee vir hom bewaarheid toe hy Saterdag aan die Parys Crater Street Mile kon deelneem.
Groter as die trots van ‘n medalje om sy nek, of die skitterende tyd van 0:05:14 waarmee Koos Letsoba Saterdag sewende geeïndig het in die Meesters-afdeling van vanjaar se Parys Crater Street Mile was die dankbaarheid van die man van Vredefort wat ná jare uiteindelik sy hardloop-droom kon uitleef.

Sy eerste straatmyl en wedloop in jare waaraan hy kon deelneem. Nie in sy ou verslete tekkies met die stukkende sole nie, maar in splinternuwe tekkies in die klubdrag van Parys Multisport, waarmee hy saam met honderde ander atlete weggespring het danksy Parys Rotary, Parys Multisport, Keith Ward en hulle wie se harte oop was vir Koos.

Hoewel hy op skool in verskeie sportsoorte uitgeblink het, was daar nie geld en geleenthede vir die jong seun wat in ‘n weeshuis in Lenasia grootgeword het, om sy talente te kon ontwikkel nie. Maar sedert ‘n berig oor Koos se hardloop-droom in die Gazette verskyn het, het baie vir die pa van twee verander, wie se voete hul ritme op die pad ken.
Sy talent is raakgesien deur hulle wat betrokke is by die organisering van die straatmyl. En dit is waaroor die Parys Crater Street Mile gaan – ‘n inisiatief uit die gemeenskap vir die gemeenskap waarmee hande gevat word.
Boonop is Koos nou danksy die goedheid van ‘n gemeenskap ‘n ingeskrewe lid van Parys Multisport en is sy registrasiegelde by Atletiek Suid-Afrika betaal.



