Sangskool gala-konsert: ‘n Uitsonderlike musiekbelewenis
Studente van die sangskool sorg jaarliks vir 'n besondere program om die jaar mee af te sluit en bied die konsert geleentheid vir mense om ook die uitstaande talent van die studente te kan hoor.
Die jaarlikse Stefan Louw Sangskool gala-konsert beloof om weer vanjaar ‘n uitsonderlike musiekbelewenis te wees met plaaslike studente van dié sangskool wat met die besondere program gehoor kan word.
Die konsert is Vrydag 7 November om 19:00 by die NG Parys-Suid-gemeente in Rubinstraat.
Sangstudente sing by Gala-konsert
Die koste beloop R300 per volwassene en R150 vir kinders. Kaartjiebesprekings moet vooraf gedoen word en kan aanlyn gekoop word by Quicket by https://www.quicket.co.za/events/335302-gala-concert-2025/ of skakel Marisa Louw by 064 963 5386. Verversings sal te koop aangebied word.
Die studente se afrigter, die bekroonde tenoor Stéfan Louw, het onlangs die gesogte 45ste Herdenkings-toekenning van die Roodepoort Teater ontvang. Hierdie eerbewys erken Louw wat reeds 30 jaar in die bedryf is, se uitsonderlike bydrae tot die teater en die uitvoerende kunste. Sy naam is ook opgeneem in die teater se heldesaal, saam met ander wat dié teater se geskiedenis help vorm het.
Die Stefan Louw-sangskool
Stefan Louw het Parys in 2012 sy tuisdorp gemaak. In 2020 begin hy sy sangskool in die dorp. Hy is die stemafrigter vir verskeie plaaslike inwoners waaronder ook drs. Walter Bell en Gerrit Gouws, en oudioloog Susan Venter.
Hierbenewens het hy al verskeie keer saam met die Deo Gloria koor, onder leiding van Erna Rademan en Marli Kruger opgetree, en bied hy kwartaallikse gewilde huiskonserte aan in sy voorhuis in Derdelaan.
Eerbewys vir Louw met teater-toekenning

Louw het die eerste keer in 2003 in die Roodepoort Teater opgetree en het sedertdien ‘n beduidende impak op die Suid-Afrikaanse operaverhoog gemaak. Sy vertonings, produksies en inisiatiewe het die kulturele landskap verryk en ontelbare gehore en kunstenaars geïnspireer.
Van sy kragtige rolle in ikoniese operas soos Tosca en La Bohème, tot sy baanbrekerswerk in jeugontwikkelingsinisiatiewe en die skep van opvoedkundige programme, het Louw sy verbintenis tot beide die kunste en gemeenskapsbetrokkenheid konsekwent getoon.
In 2010, ná die aftrede van Maestro Weiss Doubell, het Louw teruggekeer na die Roodepoort Teater om Doubell se nalatenskap voort te sit, met sy eie produksie, Aria! Opera for Everyone. Oor die daaropvolgende jare het hy nie net opgetree nie, maar ook as regisseur opgetree en ‘n operakoor gestig wat sy invloed op die teater verder verstewig het. Sy 2015-produksie van Madama Butterfly bly een van die teater se grootste prestasies.
Teater ‘n plek waar drome gestalte kry
“Om deel te wees van die Roodepoort Teater se reis was ’n eer,” sê Louw. “Die teater was nog altyd ’n plek waar drome gestalte kry, en om my naam met hierdie nalatenskap te assosieer, laat my nederig voel maar is terselfdertyd ook inspirerend. Ek sien daarna uit om my werk met hierdie ongelooflike instelling voort te sit,” het Louw gesê.
Hy het die benoeming beskryf as gelykstaande aan die eer wat hy in 1999 ontvang het toe hy die FNB Vita Opera-prys ontvang het as Beste Nuweling in Opera..

Die Wall of Fame, wat die Roodepoort Teater se 45-jarige geskiedenis herdenk, vereer individue wie se toewyding en kunssinnigheid ’n onuitwisbare merk op die teater se ontwikkeling gelaat het. Louw se insluiting getuig van sy blywende invloed in die wêreld van opera en teater – veral in sy pogings om nuwe gehore te betrek deur middel van innoverende programme en vertonings.
Louw se werk word steeds op die operaverhoog gehoor, terwyl hy sy uitvoerende loopbaan balanseer met die afrigting by sy Sangskool in Parys.
Louw is onlangs gesien in die rol van Don José in Carmen by die Joburg Teater – ’n susterverhoog van die Roodepoort Teater, asook by die Pierneef Teater in Pretoria, waar hy ’n ander kant van sy stem gewys het met roerende weergawes van Elvis Presley se ballades.



