Najaarsrus-tuin met liggies getooi
Parysenaars sal vanjaar vir die eerste keer ook 'n eie liggiefees kan beleef wanneer die Najaarsrus tuin met liggies getooi sal word.
Die Abraham Kriel liggiefees in Potchefstroom het oor jare bekendheid verwerf vir sy besondere liggie-skouspel elke Desember. Vanjaar het Parysenaars die geleentheid om ook iets van die liggie-betowering in hul eie tuisdorp te kan beleef.
Die Engo-groep waarvan Najaarsrus deel is, neem vanjaar die inisiatief vir ‘n liggiefees in die Najaarsrus-tuin. Hoewel die liggiefees op kleiner skaal as die bekende Potchefstroom-liggiefees sal wees, word baie moeite gedoen deur borge maar ook die tehuis se bejaardes om van die eerste liggiefees iets besonders te maak.
Die tuin is ‘n lus vir die oog met een van die inwoners, die 90-jarige Alet Fourie, wat haar kreatiewe stempel op die netjiese en kleurvolle tuin afgedruk het, en haar hand aan die tuin hou.
Parysenaars sal van 5 tot 7 Desember elke aand tussen 18:00 en 22:00 na die liggies by Najaarsrus kan gaan kyk. Daar sal ook pannekoek, worsrolle, koeldrank en slush puppies te koop wees, en sal jy die bejaardes se eie handwerk kan sien met ‘n besonderse handgemaakte Kersboom.


Ook in die tuin staan pragtige draad tuinversierings, gemaak deur van die bejaardes wat met liggies getooi sal word.

Toegang kos R10 per volwassene en R5 per kind, en gaan die fondse wat ingesamel word uitsluitlik vir behoeftige bejaardes wat finansieël deur Najaarsrus gedra word.
Daar word beplan om die liggiefees af te sluit met ‘n Kerssangdiens Sondagaand 7 Desember om 18:00 in die Najaarsrus-tuin. Inwoners maar ook besoekers is welkom.
As jy liggies of ander Kersversierings het wat jy vir die liggiefees wil skenk, skakel Roxanne by (06) 817 7343 of jy kan die skenkings by Najaarsrus afgee.


