Local newsNews

Erla Diedericks – vreesloos, op die man af, realisties

Die vlymskerp humor en unieke gewaarwordinge, interessante karakters en realistiese dialoog is eie aan die boeke van skrywer Erla Diedericks

Vir 30 jaar is sy ‘n gesoute joernalis en rubriekskrywer, maar deesdae vloei bliksverkopers met donker temas uit die pen van Erla Diedericks. Treffers waarvoor lesers nie kan wag vir die volgende pennevrug om op die rak te verskyn nie.

Haar skryfwerk is vreesloos, en skram sy nie weg daarvan om dinge te beskryf soos dit is nie – of dit moord, ouerskap, liefde, haat, marteling of seks is. Haar boeke is vol vlymskerp humor en unieke gewaarwordinge, interessante karakters en realistiese dialoog.

Erla het reeds ‘n hele paar boeke op haar kerfstok. Voorheen het sy meer oor verhoudings en seks geskryf, maar in die laaste paar jaar het Erla haarself gevestig as skrywer van spanningsverhale en rillers.

Erla het met Analize Viljoen gesels oor haar boek, Bonsaimeisies, en haar skryfwerk oor die algemeen.

Hoe het dit gekom dat jy in dié genre van spanningsverhale en rillers begin skryf het?
Al was ek nog altyd mal oor spanningsromans het ek na my gewelddadige huwelik opgehou om sulke boeke en rolprente te geniet totdat ek jare later ‘n roman, Dominique, geskryf het. Nie een uitgewer wou dit aanvaar nie al het hulle gereken dis goed geskryf. Toe stel Madri van der Walt voor ek skryf dit oor as ‘n spanningsroman en het ek my liefde vir spanning herontdek.

Ek was aanvanklilk senuagtig dat dit ou wonde sou oopruk, maar ek het heelwat werklike tonele uit my huwelik vir die boek (en vir Salemstraat) gebruik, en besef dat ek so my slegte
herinneringe kan besweer.

Skryf jy jouself soms bang?
Nee, ek skryf myself nooit bang nie, maar die navorsing wat ek doen vir boeke is soms ontstellend. Ek skryf oor geweld en die oorwinning van geweld, omdat ek in ‘n gewelddadige
huwelik was. My kinderjare was ook rof. Dus…dit maak my nie bang nie, want nou kan ek die vrees beheer, en ek weet wat die uitkoms is.

Waaroor gaan Bonsaimeisies?
Bonsaimeisies handel oor wat gebeur as forensiese sielkundige Ann Marais saam met haar agtienjarige stiefdogter gaan ontspan in Benedal – net om uit te vind dat ‘n reeksmoordenaar, die Tuinier, besig is om agtienjarige meisies te teiken. Sy moet hom vastrek voordat hy weer sysnoeiskêr uithaal.

Is dit deel van ‘n reeks of ‘n losstaande verhaal?
Dit is losstaande, maar het dieselfde karakter as my vorige twee verhale.

Die karakters in Bonsaimeisies is almal uiteenlopend op die oog af, maar het een ding in gemeen – hulle is interessant en sterk.

Bonsaimeisie
Erla Diedericks se pennevrug, Bonsaimeisies

Daar is ‘n dogtertjie wat die hoofkarakter van die trappe probeer afstamp, ‘n man met ‘n gure verlede in die weermag (Bosman), daar is Eve wat ‘n plantkundige is maar wat ‘n uiters ontstellende jeug gehad het, en dit probeer besweer met plante en maanlig.

Dan is daar die bobbejane wat self karakters is en reageer op die wreedheid van die mens Daar is Ann Marais, ‘n eksentrieke maar uiters slim en bekwame vrou wat ‘n psigiater is, maar allermins perfek en met demone (onder meer drank) van haar eie worstel.
Lesers sal meegevoer word deur die interessante karakters maar ook hul eie vrese en behoeftes in die boekmense herken.

Wie is die teikenleser?
30 jaar en ouer.

Iets wat vir my uitgestaan het in Bonsaimeisies is die realistiese dialoog. Dis presies hoe mense praat. Jy het ‘n graad in drama – speel jy dialoog in jou kop af soos jy dit skryf?
As jy wil weet of dialoog werk, lees dit hardop vir jouself. Die truuk is om dialoog te laat klink soos in die werklikheid, maar om dialoog te skryf is egter ‘n tegniek wat jy moet leer.

Skrywer Erla Diedericks
Skrywer Erla Diedericks

Jy het terwyl jy geskryf het, en al diep in die manuskrip in was, gesê jy weet self nog nie wie die moordenaar is nie. Vertel ons meer van hierdie proses, en hoe die storie organies groei.
Ek begin gewoonlik met ‘n frase in my kop en ‘n uiters vae verhaal wat heeltemal verander soos wat ek skryf. Ek is vas oortuig my karakters praat met my, en ek hoor hulle in my kop – of dalk is ek net heeltemal waansinnig en het ek geleer om my waansin in woorde te omskep.

Een van jou take by Netwerk 24 is om mense se kommentaar op berigte te modereer. As jy vir die mense wat sleutelbordoorloë voer, iets kan sê, wat sal dit wees?
Ek kan nie glo dat mense dikwels sulke vieslike kommentaar skryf nie. Ek wonder altyd hoekom hulle nie eerder besig is om hulself te geniet saam met hul familie nie. En ek kan nie verstaan waar al die haat vandaan kom nie.

Ek dink dit spruit uit ‘n lae selfbeeld, ongelukkkigheid met jouself en jou lewensomstandighede en dan ‘n wanhopige gesoek na erkenning waar hulle aandag probeer trek deur hul kommentaar.

Om ‘n trol te wees en ander rasse, geslagte, gelowe en mense met ander voorkeure af te kraak verklap meer oor jouself en plaas net jouself in ‘n slegte lig.

Gooi eerder ‘n glasie wyn of lekker koppie tee/koffie en geniet my boek!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button