Local newsNews

Verkeersbeampte kry lewenslank vir die moord op sy vrou

Geen mate van woede kan sulke wreedheid regverdig nie, is in die hof gesê.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die lewenslange gevangenisstraf, asook ’n verdere sewe jaar direkte gevangenisstraf, wat deur die Hooggeregshof in Pretoria opgelê is aan die Gautengse Provinsiale Verkeersbeampte, Zakhele Bennet Hlongwane (53), van Mamelodi, verwelkom.

Hlongwane is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die voorafbeplande moord op sy vrou, Tili Desire Ngobeni (33), vyf jaar vir die rig van ’n vuurwapen, en twee jaar vir kwaadwillige saakbeskadiging. Die hof het beveel dat die vonnisse gelyklopend met die lewenslange vonnis uitgedien moet word en het verder bepaal dat Hlongwane ongeskik is om ’n vuurwapen te besit.

Volgens Lumka Mahanjana NVG Streekswoordvoerder in Gauteng is Hlongwane op 1 April 2024, omstreeks 05:00, na die oorledene se woonplek in Mamelodi waar hy die deur van haar kamer oopgebreek en haar verskeie kere geskiet het in die teenwoordigheid van hul kinders van vyf en drie jaar oud onderskeidelik. Nadat die oorledene se neef die skote gehoor het, het hy uit sy kamer gekom, waarop Holongwane die vuurwapen op hom gerig het. n Uur later het Hlongwane homself by die Mamelodi-polisiestasie gaan oorgee en was sedertdien in aanhouding, nadat die NVG suksesvol sy borgtog teëgestaan het.

In die hof het Hlongwane skuldig gepleit aan moord en die rig van ’n vuurwapen. Hy het beweer hy was deur woede oorweldig en het nie beplan om sy vrou dood te maak nie. Sy regsverteenwoordiger het die hof versoek om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk, met die argument dat Hlongwane homself oorgegee het, ’n eerste oortreder is, en berou getoon het deur verskoningsbriewe aan die oorledene se familie en die gemeenskap te skryf.

Staatsadvokaat Vusimuzi Tshabalala het egter aangevoer dat Hlongwane se verskonings eerder uitdrukkings van spyt as ware berou was, aangesien dit eers ná sy skuldigbevinding gemaak is. Hy het benadruk dat Hlongwane, as wetstoepasser, eggenoot en vader, die wet moes handhaaf en sy gesin beskerm, maar in plaas daarvan hul vertroue geskend het, die oorledene se reg op lewe van haar weggeneem het, en sy kinders getraumatiseer het.

Advokaat Tshabalala het verder beklemtoon dat vrouemoord ’n wydverspreide misdaad in Suid-Afrika bly, en dat geen mate van woede sulke wreedheid kan regverdig nie. Hy het die hof versoek om ’n lewenslange vonnis op te lê.

By die uitspraak het regter Mashudu Munzhelele met die Staat saamgestem en opgemerk dat Hlongwane geen ware berou getoon het nie, en aan ’n ernstige en algemeen voorkomende misdaad skuldig bevind is. Sy het die daad beskryf as uiters wreed en roekeloos, gepleeg teen die persoon wat hy veronderstel was om lief te hê en te beskerm.

“As ’n wetstoepassingsbeampte moes hy die wet handhaaf, nie dit oortree soos hy gedoen het nie. Om ’n ligter vonnis op te lê, sou die erns van hierdie misdaad ondermyn,” het die regter gesê.

Die hof het dus bevind dat daar geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan om van die voorgeskrewe vonnis af te wyk nie.

Die Waarnemende Direkteur van Openbare Vervolgings in Gauteng, advokaat Marika Jansen van Vuuren, het die werk van die aanklaer geloof en gesê:

“Dit kan nooit genoeg beklemtoon word hoe belangrik menslike lewe is nie. Die NVG sal aanhou om sulke sake met erns te vervolg om geregtigheid vir slagoffers te verseker en as afskrikmiddel vir moontlike oortreders te dien.”


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button