Derde liggaam gekry
Die naweek se tragedie waartydens drie mense in die Vaalrivier by Parys verdrink het, het weer kommer laat ontstaan oor bewusmaking rondom veiligheid veral in riviere met die Feesseisoen en inisiasietydperk wat in Desember voorlê.
Die liggaam van die derde slagoffer van ‘n verdrinking Sondagmiddag in die Vaalrivier naby die hangbrug in Parys, is net voor 11:00 vanoggend uit die rivier by Fickstraat gehaal, sowat 200m van waar die eerste liggaam laat gistermiddag uit die water gehaal is deur die polisie se K9 Soek-en-Reddingseenheid van Sasolburg.
Vanoggend rondom 07:00 is die tweede liggaam by die Mimosa Tuine uit die rivier gehaal.
Al drie oorledenes was van Potchefstroom.
Die tragedie het Sondagmiddag omstreeks 14:00 tydens ‘n doopseremonie gebeur, en is daar sedertdien onverpoosd na die drie mans gesoek.
Die rivier loop baie sterk by die stroomversnellings by die klipplaat naby die brug waar die mans deur die water meegesleur is, en het dit die soektog bemoeilik.








