Skroothandelaar gearresteer ná vermoedelik gesteelde kabel gekry is
Kabel wat vermoedelik by Eskom, Telkom en die munisipaliteit gesteel is, is op die perseel gekry.
’n Sewe en vyftigjarige man is gister in Parys in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom, na ‘n polisie-operasie waartydens 286kg koperkabels ter waarde van ongeveer R6 552.00 by ‘n skootwerf in Parys se nywerheidsgebied gekry is.
Polisiewoordvoerder sersant Josephine Rani sê daar word vermoed dat die kabels by Telkom, Eskom en die plaaslike munisipaliteit gesteel is, en is die kabels in ‘n kamer op die perseel gevind.
Parys-SAPD, in samewerking met Welkom-DPCI, Sasolburg K9, Provinsiale FLASH, amptenare van Eskom, Telkom en die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, asook Fezile Dabi Distrik DOCC-lede, het aan die gesamentlike operasie deelgeneem.
Tydens die operasie is daar ook ‘n padblokkade gehou en verskeie tweedehandse handelaars en persele met dranklisensies besoek. Verskeie boetes is tydens die operasie uitgereik.

Die man sal binnekort in die Parys-landdroshof verskyn op aanklagte vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom het Rani gesê.



