Kyk: Kat bekyk vreemde besoeker
As likkewane bedreig voel, soek hulle skuiling, en as hulle nie kan wegkruip nie, suig hulle hul lywe vol lug en neem ‘n dreigende houding in, meestal op die agterpote, en maak ‘n blaasgeluid. Die vyand word dan met die stert, bek en kloue afgeweer.
Vanuit sy hoogte het dié kat vanoggend ‘n likkewaan wat in Delverstraat rondgedwaal het vanuit alle hoeke en kante bekyk.
Likkewane is geen ongewone gesig vir Parysenaars nie. Vroeër jare is hulle dikwels in leivore of in erwe na aan die rivier opgemerk.
Volgens Wynand Nel van die gemeenskap vrywilliger groep WeCare, het hulle rekord van tussen 14 en 20 likkewane wat in die afgelope twee maande in erwe in die dorp gekry is.
Nel sê die volgehoue reën veroorsaak dat die likkewane uit die nat veld beweeg om kos te soek. Met die Vaalrivier wat so naby is, is dit hul natuurlike habitat en sê Nel dat die likkewane gewoonlik nie aggressief is nie, maar vermy beslis konfrontasie met die besoekers, want sodra hulle kos gekry het, beweeg hulle gewoonlik aan.
Bly weg van die skerp en stomp kant
Hy het ook gewaarsku om nie ‘n likkewaan te konfronteer nie. Behalwe dat hulle kan byt, slaan die stert soos ‘n sambok. Bly daarom maar weg van die skerp en die stomp kant van ‘n likkewaan, sê Nel.

Raad met likkewane
Sy raad is om sou ‘n likkewaan in jou huis kom, hom met ‘n besem te probeer uitstoot mits dit veilig is, of andersins ‘n groot kombers oor hom te gooi en aan die stert uit te vat.
Maar probeer verkieslik om nie die likkewaan te hanteer nie, want hy’s beslis nie jou maat nie.
As likkewane bedreig voel, soek hulle skuiling, en as hulle nie kan wegkruip nie, suig hulle hul lywe vol lug en neem ‘n dreigende houding in, meestal op die agterpote, en maak ‘n blaasgeluid. Die vyand word dan met die stert, bek en kloue afgeweer.

Sou jy ‘n likkewaan in jou erf of huis hê kan jy Nel skakel vir raad of hulp by 082 629 1553.
‘n Paar interessanthede oor likkewane
* Likkewane se lengte kan wissel tussen 20 en 300cm (die Komododraak).
* Daar is 30 spesies in die likkewaanfamilie.
* Likkewane se sterk, gevaarlike kloue laat hulle rats en vinnig beweeg en kan hulle in bome of oor rotse klouter.
* Hul stert is sydelings afgeplat en is nie net ‘n swemorgaan nie, maar ook hul wapen.
* Hoewel die rugskubbe rond is en nie oormekaar gerangskik nie, is die skubbe op die pens meer vierkantig en in dwars rye gerangskik.
* Dit is nie net die likkewaan se lang gevurkte tong wat met slange ooreenstem nie. Ook die bou van die ruggraat en skedel toon ooreenkomste.
* Die tong dien ook as reukorgaan.
* Likkewane is dagdiere en vleisvreters, hoewel hulle ook eiers eet.
* Die grootte van die prooi word bepaal deur die grootte en ouderdom van die likkewaan. So sal jong likkewane van kleiner spesies insekte vreet.



