Vier beseer in nog ‘n botsing op R59
Motoriste is weer gewaarsku om met die oog op verhoogde verkeersvolumes op paaie oor die Feestyd te hou by spoedgrense en veilige volgafstande veral in reënweer en saans wanneer sig bemoeilik word.
Een persoon is oorlede en drie beseer in ‘n botsing vanmiddag op die R59 duskant die Truck Stop aan Sasolburg-kant nadat die Uno waarmee hulle gery het, omgeslaan het.
Die beseerdes, van wie een ernstig, is per ambulans van die toneel vervoer.

Geen ander voertuie was in die botsing betrokke nie.
Die botsing volg na twee ernstige botsings wat vroeër vanoggend en Saterdag op paaie in die Vrystaat gerapporteer is.
In vanoggend se busongeluk op die N1-hoofweg buite Edenburg in die rigting van Bloemfontein, is drie mense dood en 71 beseer toe die bus en ‘n sleepwa omgeslaan het.
Saterdag het drie volwassenes en drie kinders gesterf in ‘n tragiese kop-aan-kop botsing op die R57 tussen Petrus Steyn en Heilbron.



