Waarskuwing: Noodlottige botsing naby Kroonstad
Motoriste word gewaarsku om baie versigtig te bestuur wanneer jy die toneel nader en bedag te wees op wetstoepassers op die toneel.
Wetstoepassers is nog op die toneel op die R34, sowat 25km buite Kroonstad, (vanaf Welkom), waar vyf mense vroeër vanaand in ‘n noodlottige botsing gesterf het.
Sipho Towa, voorsitter van die Road Incident Management System (RIMS) het motoriste gewaarsku dat opruimingswerk- en ondersoek op die toneel nog ‘n geruime tyd kan duur.
Die botsing het om 19:20 gebeur toe ‘n Toyota Avanza omgeslaan het. Naas die vyf oorledenes wat op die toneel gesterf het, is vyf kritiek beseerde pasiënte van die toneel na die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad vervoer.
Barrage-pad
Die botsing op die R34, volg na nog ‘n tragiese botsing vroeg vanoggend toe twee mense op die Barrage-pad naby die bessieplaas gesterf het nadat die voertuig waarin hulle en ander insittendes gery het, omgeslaan het.
Vier insittendes van die voertuig is beseer, van wie een kritiek was. Die beseerdes is na die Parys-hospitaal, Fezi Ngubentombi-hospitaal in Sasolburg en Emfuleni Medi Clinic vervoer.
Ons opregte medelye aan die naasbestaandes van die oorledenes in die twee botsings.



