Studente is dikwels sagte teikens: Wees altyd waaksaam en bewus van jou omgewing
Wees altyd waaksaam, tree slim op en wees bewus van jou omgewing
Met universiteite wat volstoom aan die gang is vir die nuwe akademiese jaar, is hierdie ‘n tyd van groot opgewondenheid onder studente wat terugkeer kampus toe of wat die eerste keer student-wees beleef.
Maar of jy op die universiteitskampus, in ‘n woonstel of ander studenteverblyf woon – basiese veiligheidsreëls moet nooit agterweë gelaat word nie.
Tipiese vorme van kampusmisdaad sluit diefstal en roof in, maar studente kan ook slagoffers word van meer ernstige misdade, soos seksuele aanranding en ontvoering.
Hoekom word studente dikwels geteiken?
Daar is verskeie redes. Een daarvan is dat studente skootrekenaars, rekenaars, selfone, iPods en ander toestelle het – items wat lig, draagbaar en maklik is vir ’n misdadiger om te verkoop.
Veiligheidsmaatreëls geld egter nie net op kampus of op straat nie, maar ook in parkeerareas.
-
Moet nooit vir vreemdelinge ’n saamrygeleentheid aanbied of rylopers oplaai nie. Hou jou sleutels in jou hand wanneer jy jou voertuig nader. Selfs al is jou motor gesluit, kyk na die voor- en agtersitplekke voordat jy inklim.
-
Moenie enigiets van waarde, insluitend klere, kontant of juweliersware, in jou voertuig los nie.
-
Maak seker jou motorligte is afgeskakel om pap batterye te voorkom en te keer dat jy sonder vervoer gestrand is.
-
Hou jou sleutels in jou hand wanneer jy jou voertuig nader sodat daar geen huiwering is wanneer jy inklim nie. Selfs al is jou motor gesluit, kyk na die voor- en agtersitplekke voordat jy inklim.
-
As jy die kampus verlaat en vermoed jy word agtervolg, ry onmiddellik na die naaste polisiestasie of ’n besige openbare plek. Bly in die voertuig met die deure gesluit en bel die polisie of ’n familielid vir hulp. Probeer die registrasienommer van die voertuig kry, asook die maak en model van die voertuig wat jou moontlik volg. Neem ook ‘n foto van die motor as jy kan.
-
Beweeg in ‘n groep
-
Sosialisering is ’n groot deel van studentelewe. Wees bewus daarvan dat alkohol en dwelms jou vermoë beïnvloed om duidelike besluite te neem en effektief te kommunikeer.
As jy onveilig voel of dink jy kan in gevaar wees, verlaat die situasie onmiddellik. Dit is altyd beter om in ’n groep saam met vriende wat jy vertrou uit te gaan en bymekaar te bly. Moenie drankies van vreemdelinge aanvaar nie en hou jou drankie te alle tye dop.
Wenke vir veiligheid in jou kampusverblyf:
-
Sluit jou deure.
-
Rapporteer verdagte persone.
-
Moet nooit jou deur vir vreemdelinge oopmaak nie.
-
As jy jou verblyfsleutel verloor het, rapporteer dit onmiddellik en laat die slotte vervang.
-
Moenie jou verblyf- en motorsleutels aan dieselfde sleutelring hou nie, en moet nooit jou adres op jou sleutelring aandui nie.
-
Hou verkieslik alle waardevolle items, insluitend kontant, in ’n kluis toegesluit.
Universiteit is ’n opwindende stap vir jong volwassenes. Om seker te maak dat jou ervaring om die regte redes onvergeetlik is, meng met mense wat dieselfde ingesteldheid oor persoonlike veiligheid het en op wie jy in ’n noodgeval kan staatmaak.



