Maklike huisveiligheidswenke wat ’n groot verskil maak
Deur net 'n paar veranderings aan te bring, kan jy jou veiligheidheid by jou huis drasties opskerp.
Om jou huis veilig te hou hoef nie ingewikkeld te wees nie.
“’n Paar klein veranderinge kan ’n groot verskil maak wanneer dit by huisveiligheid kom,” sê Charnel Hattingh, Hoof van Bemarking en Kommunikasie by Fidelity ADT. “
Eenvoudige veiligheidswenke
Verbeter buitebeligting
Goed verligte ingange, opritte en paadjies dien as ’n sterk afskrikmiddel. Bewegingsensoriese ligte is veral doeltreffend, aangesien dit onmiddellik aandag trek na beweging op jou eiendom.
Beveilig deure en vensters
Installeer kwaliteit slotte op alle hekke, versterkte deure en diefwering waar nodig. Skuifdeure moet anti-lig-hakies en veilige sluitstelsels hê om geforseerde toegang te voorkom. Maak altyd seker dat deure en vensters behoorlik gesluit is voordat jy gaan slaap of die huis verlaat.
Snoei oorgroeide struike en bome
Hou plante naby vensters, deure en grensmure gesnoei om wegkruipplekke te verwyder en sigbaarheid te verbeter. Bome wat maklike toegang oor mure of heinings bied, moet teruggesnoei word. Maak seker bosse versper nie buitealarmsensors nie. Vermy dit om items soos lere, gereedskap of tuintoerusting buite te laat, aangesien dit gebruik kan word om toegang tot jou huis te verkry.
Toets jou alarmstelsel en hou jou kontakbesonderhede op datum
Jou gewapende reaksieverskaffer moet altyd jou korrekte kontakbesonderhede hê om vertragings in ’n noodgeval te voorkom. Maak seker hulle het opgedateerde selfoonnommers vir almal in jou huishouding. Indien jy onlangs ’n hond gekry het, stel jou sekuriteitsverskaffer in kennis sodat reaksiespanne bewus is. Toets jou alarmstelsel gereeld—veral die rugsteun battery—om te bevestig dat seine korrek ontvang word.
Gebruik slim sekuriteitsoplossings
CCTV-kameras en alarmsensors stel huiseienaars in staat om aktiwiteit op ‘n afstand te monitor en vinnig op moontlike bedreigings te reageer.
Skep die indruk dat iemand tuis is
Gebruik tydskakelaars vir ligte wanneer jy weg is en vra ’n buurman of vriend om jou pos uit te haal. Sigbare tekens van ’n leë huis kan misdadigers lok.
Leer jou bure ken
Sterk gemeenskapsverhoudings is ’n kragtige misdaad-afskrikmiddel. Wanneer bure na mekaar omsien, word verdagte aktiwiteite vinniger raakgesien en aangemeld. ’n Buurman is dikwels ook die eerste om te reageer wanneer iets verkeerd loop.
Dink soos ’n misdadiger
Staan buite jou hek en beoordeel hoe maklik dit sou wees om toegang tot jou eiendom te kry. Is daar oop vensters, gebreekte slotte of onversekerde toegangspunte? Kontroleer die deur tussen jou motorhuis en hoofwoning om seker te maak dit sluit behoorlik en word konsekwent gebruik. Begin by die grens en werk na binne om kwesbaarhede te identifiseer wat aandag nodig het.
Praat met jou geliefdes
Persoonlike veiligheid moet ’n deurlopende gesprek wees. Maak seker almal in die huishouding verstaan basiese veiligheidsgewoontes en weet hoe om in ’n noodgeval op te tree. Kinders moet veral weet hoe om hulp te ontbied of ’n paniekalarm te gebruik indien nodig.
“Sekuriteit werk die beste wanneer ons almal ons deel doen,” voeg Hattingh by. “Deur ’n paar eenvoudige veranderinge aan te bring, kan ons veiliger huise en sterker gemeenskappe skep.”



