‘Soos vir Jona het God my pad uitgelê’
Soos wat hy van jongs ervaar het, is geloof steeds vir ds. Willie die kompas wat sy lewe op koers hou - selfs as stormwinde aan jou noord kom ruk.
Die Wes-gemeente se ds. Willie Griesel is ‘n man wat ‘n geloofspad met God stap. Op die jong ouderdom van 19 is hy die eerste keer met kanker gediagnoseer. Maar telkens wanneer die kanker teruggekeer het, het hy God se voorsieningshand beleef. Selfs met die uitdagings van kankerbehandeling in Covid-tyd, was dit ‘n pad van genade.
Vandag is sy kanker in remissie, en is hy en sy vrou, Bernice, selfs ten spyte van die agressiewe behandeling, geseën met die wonder van ‘n tweeling, die vyfjarige WJ en RJ. Die spil waarom ‘n pappa en mamma hart draai.
Hier in Parys wat nou hul nuwe tuiste is, is daar baie planne vir saam visvang en kamp.

Ds. Willie het op 1 Maart sy intreepreek by die NG Wes-gemeente gegee, nadat ds. Barry van Wyk die tuig neergelê het, en Willie beroep na die gemeente aanvaar het.
Hy kom van Hertzogville waar hy dié gemeente met sy mooi ysterklik kerk van 2021-2026 bedien het.
“Ek het vir die Here gesê – as ek moet weggaan van Hertzogville, moet Hy iets oor my pad stuur, en Hy het.” Soos wat sy pad destyds na drie jaar in Bray by die Onder Molepo-gemeente uitgelê was met die skuif na Hertzogville, het Parys oor ds. Willie en Bernice se pad gekom.
Die legkaartstukke het net in plek geval, vertel ds. Willie en sê – “daar is net iets ongeloofliks aan die Here se voorsiening.”
Die Griesels is familievaste mense. Hy is een van vier kinders en het grootgeword in ‘n huis waar die kerk ‘n groot rol gespeel het. Selfs wanneer ons met vakansie was, het ons ‘n kerk gaan soek waar ons die Sondag kon kerkgaan, onthou hy.
Bernice is sy sielgenoot, sy hartsmens wat hy in die koöperasie op Standerton ontmoet het waar sy destyds gewerk het. “Ek het gaan hondekos koop, en toe ek haar sien, het ek geweet – met haar wil ek trou,” vertel hy. Sy’t onderwys studeer, en die twee is in 2018 getroud net voor hy die beroep na Bray aanvaar het – sy eerste gemeente.
“Ek was in graad 10 toe ek die eerste keer geweet het – ek wil predikant wees, maar ek is baie soos Jona. ‘n Groot introvert. Die een in die klas wat nooit ‘n woord gesê het nie. Ek het spyseniering op ‘n stadium oorweeg, en toe die plan nie uitwerk nie, het ek soos Jona opnuut my roeping besef. Selfs vir my teologie studie aan die Pretoriase Universiteit het die Here voorsien.
Van die 15 klasmaats wat uiteindelik saam hul studie voltooi en graad gekry het, is drie in Parys gevestig. Naas ds. Willie, is ds. Francois van die Oos-gemeente, en ds. Juan van die Hervormde gemeente ook in Parys.

Gemeentes se uitdaging vandag is die betrokkenheid van jongmense. Jongmense is die vooruitgang van ‘n gemeente, gesels ds Willie.
Daarom is sy visie vir die Wes-gemeente om jongmense weer opgewonde te maak vir die gemeente, en vir die NG Kerk.
Opgewonde oor ‘n verhouding met Jesus, maar ook dat ouers weer sal besef watter groot rol hulle speel om kinders in die kerk te kry.
Soos wat hy van jongs ervaar het, is geloof steeds vir ds. Willie die kompas wat sy lewe op koers hou – selfs as stormwinde aan jou noord kom ruk.



