Mev SA bedanking bevestig
Eerste Prinses Carika Bebb sal onmiddellik die pligte en verantwoordelikhede van Mevrou Suid-Afrika 2026 oorneem.
Verushka Singh het formeel uit haar titel as Mev. SA 2026 bedank.
In ‘n verklaring van die organiseerders van die Mev Suid-Afrika-organiseerders, is gesê dat Verushka besluit het om terug te tree om op belangrike persoonlike prioriteite te fokus, en haar gesin eerste te stel. Die organisasie sê hy respekteer haar besluit en erken die verantwoordelikheid wat dit verg om keuses te maak wat ’n mens se welstand en persoonlike reis eer.
“Ek is dankbaar vir die geleentheid om op hierdie platform te dien en vir die ongelooflike vroue saam met wie ek die voorreg gehad het om te staan,” sê Singh. “Hierdie besluit is geheel en al my eie, geneem met my gesin se behoeftes in gedagte, en ek stap weg met niks anders as waardering vir Mevrou Suid-Afrika en waarvoor dit staan nie.”

“Verushka het die titel met toewyding en professionaliteit gedra gedurende haar tyd op die platform,” sê Joani Jacobs, uitvoerende hoof van Mevrou Suid-Afrika. “Ons respekteer haar besluit en ondersteun haar daarin om te fokus op wat die belangrikste is in hierdie fase van haar lewe.”
In ooreenstemming met Mevrou Suid-Afrika se tradisie en opvolgprotokol, sal Eerste Prinses Carika Bebb onmiddellik die pligte en verantwoordelikhede van Mevrou Suid-Afrika 2026 oorneem.
“Dit is ’n eer om in hierdie rol in te tree en die werk van hierdie ongelooflike vrouebemagtigingsplatform voort te sit,” sê Bebb. “Ek is daartoe verbind om Mevrou Suid-Afrika met doel en trots te verteenwoordig en sien uit daarna om ’n betekenisvolle verskil te maak deur die sake wat my na aan die hart lê.”



