Parys groet geliefde sakevrou en inwoner
Die teraardebestelling en gedenkdiens het op 26 Oktober plaasgevind.
Annatjie Swart, wat jare lank ‘n bekende gesig agter die toonbank van die destydse Parys Mans- en Kinderwinkel in Middelstraat was, is op 19 Oktober, slegs dae ná haar 84ste verjaardag, oorlede.
Die Mans- en Kinderwinkel is in 1950 deur Annatjie se ma, Babs Haywood, in Parys begin. Dit was toe nog as die Parys Kinderwinkel bekend en is as ‘n handelshuis bedryf. Annatjie het oorgeneem toe haar ma siek geword het en begin om ook mansklere deel van die winkel se voorraad te maak.
In 1982/83 het haar man, Blackie, by haar aangesluit nadat hy weens mediese redes as die destydse stasiebevelvoerder van die Parys-polisiestasie uit die diens moes tree.
Vir 55 jaar het Annatjie met haar kennis en jarelange ervaring uitstaande diens gelewer. Of dit nou skoolklere, formele of informele mansklere was – ‘n besoek aan die winkel het menigmaal in ‘n heerlike kuier saam met Annatjie en Blackie ontaard. Dit was ‘n winkel waar jy tuis gevoel het en dikwels sommer net ingeloer het – al was dit net vir ‘n geselsie.

Met die verkoop van die winkel aan die einde van September 2020 het Annatjie en Blackie die winkeltoonbank vir ‘n salige ruskans verruil.
Met Blackie se afsterwe in 2024 was dit ‘n groot gemis vir Annatjie, asof ‘n deel van haar skielik weg was.
In die laaste weke voor haar dood het haar gesondheid vinnig agteruitgegaan. Sy is aan hartversaking en onderliggende komplikasies oorlede.
Vir haar dogters, Lucia en Hesta, en haar kleinkinders was Annatjie soveel meer as net familie. Sy was hul rigtingwyser, inspirasie en anker.
Die lewenslesse wat sy hulle geleer het, die beskerming en fondament wat sy gebied het, en daardie unieke ouma-bederf en trotse glimlag in haar oë het blywende indrukke gelaat.



