D-dag vir raad se besluit oor Eskom-ooreenkoms
Eskom sal op 24 April sy finale besluit oor Ngwathe se lot bekend maak.
Terwyl frustrasie die afgelope week opgebou het oor eindelose kragprobleme in dele van Parys, met sommige huishoudings wat teen Dinsdag meer as 15 uur sonder krag was, sal die Ngwathe Munisipale Raad Vrydagmiddag moet besluit of hy instem tot ‘n verspreidingsagentskapooreenkoms (DAA) met Eskom.
Die Ngwathe-munisipaliteit is een van 13 wanbetalende munisipaliteite vir wie Eskom vroeër as deel van sy openbare deelname proses ‘n kennisgewing geplaas het van sy voorneme om grootmaat kragvoorsiening na die munisipaliteit te onderbreek of te verminder teen 8 Mei, sou die munisipaliteit nie gehoor gee aan die voorwaardes wat gestel is nie.
Die raad se besluit oor die DAA-ooreenkoms moet ingevolge die kennisgewing teen 27 Maart aan die Nasionale Tesourie deurgegee word.
Sou Ngwathe nie instem tot die ooreenkoms nie, is die enigste ander opsies dat Eskom die munisipaliteit se elektrisiteitsvoorsiening omskakel na voorafbetaalde elektrisiteit waar Eskom net krag voorsien gelykstaande aan wat die munisipaliteit kan bekostig, of ‘n ooreenkoms tussen Ngwathe en Eskom waarvolgens munisipale verbruikers Eskom direk betaal vir hul kragverbruik, is in die kennisgewing gesê.
Ngwathe skuld Eskom byna R3 miljard.
Verbete stryd teen onwettige kragverbindings en wanbetaling
Ten spyte van verskerpte optrede teen wanbetalers en onwettige kragverbindings, stry die munisipaliteit ‘n vergeefse stryd teen kragdiefstal wat bydra tot die skuldlas, het die munisipale bestuurder, dr. F.P. Mothamaha, Dinsdag aan Gazette gesê.
Ngwathe se finanskomitee het verlede week die DAA-ooreenkoms bespreek ná samesprekings met Nasionale Tesourie op 13 Maart. Die burgemeesterskomitee sou Dinsdag die kwessie bespreek vir ‘n verslag aan die Raad, waarna die Raad Vrydag sy besluit moet neem, het Mothamaha, gesê. Hy het ook laat blyk dat ‘n verspreidingsooreenkoms waarskynlik die munisipaliteit se beste opsie is.
Verspreidingsagentskapooreenkomste
Verspreidingsagentskapooreenkomste is een van die IRFA-georiënteerde ingrypings wat Eskom toelaat om munisipaliteite vir ‘n tydperk by te staan met dienste soos tegniese vaardigheidsontwikkeling, instandhouding en bedryf van die munisipale netwerk, bestuur van energieverliese, prys- en tariefstrukture, die faktureringsfunksie, asook inkomste- en invorderingsbestuur. Munisipaliteite wat die ooreenkoms met Eskom aangaan, behou egter hul lisensies om krag te versprei.
Opposisiepartye het egter vrae oor wat die inhoud en voorwaardes van die ooreenkoms is wat nie onder oë was nie, maar waaroor nou besluit moet word.
Tesourie het Eskom gevra om die verspreidingsagentskapooreenkoms wat hy met die munisipaliteite wil aangaan, te herskryf weens die tesourie se siening dat die ooreenkoms in sy huidige formaat die kragnutsmaatskappy glo bevoordeel. ‘n Taakspan is intussen saamgestel om na die ooreenkoms te kyk, maar is die ooreenkoms wat die Maluti-a-Phofung (2023), Emfuleni (2024) en Merafong (2025) munisipaliteite onderteken het, tot nou die enigste bestaande ooreenkoms.
Die Ekurhuleni-metro wat ook sit met ‘n Eskom skuldlas, kon intussen daarin slaag om sy ligte aan te hou na ‘n ooreenkoms met Eskom waarvolgens die helfte van agterstallige skuld betaal is, en ‘n betalingsreëling gemaak is wat insluit dat die lopende Eskom-rekening maandeliks ten volle en betyds betaal moet word.
Of ‘n publieke private samewerkingsooreenkoms dalk meer voordeel vir die Ngwathe munisipaliteit sou kon inhou, bly ‘n ope vraag.
Eskom het onderneem om teen Donderdag Gazette se vrae te antwoord oor onder meer die pad vorentoe sou die munisipale raad besluit om die DAA-ooreenkoms te onderteken, en die kwessie rondom openbare deelname prosesse met munisipaliteite wat bes moontlik ‘n risiko neem om die uitkoms van ‘n haalbaarheidstudie en openbare deelname proses vooruit te loop as die raad sou besluit ten gunste van ‘n ooreenkoms.
Eskom sal eers op 24 April sy finale besluit oor Ngwathe se lot bekendmaak.
Publieke kommentaar
Die publiek het nog tot 13 April die geleentheid om kommentaar en voorstelle oor Eskom se voorgenome optrede te stuur na: FSNgwathe@eskom.co.za of na 120 Henry Street, Westdene, Bloemfontein, 9300. Die kommentaar en voorstelle moet gemerk word vir aandag van die Senior Adviseur: Sleutelverkope en Kliëntediens.



