Fietsiedag fokus op padveiligheid
Die kleuters kon op Fietsiedag dit wat hulle oor padveiligheid geleer het, prakties toepas.
Fietsiedag by El Sali-kleuterskool was ‘n vrolike en waardevolle ervaring toe leer en pret gekombineer is as deel van die kleuters se padveiligheidsweek-tema.
Met die hulp van die plaaslike verkeersdepartement kon die jong maats op dié dag hul fietse en driewiele uithaal en in ‘n veilige, afgebakende gedeelte van 3de Laan ry.

Op dié manier het die kleuters eerstehands ervaar hoe belangrik dit is om padreëls te ken én toe te pas. Selfs van die ouers het saam kom kuier en die kinders langs die roete aangemoedig.
“Ons glo dat leer deur ervaring een van die sterkste maniere is om kinders toe te rus vir die wêreld,” sê mede-skoolhoof Marieka van Tonder. “Fietsiedag gee vir ons maats die kans om op ‘n praktiese en prettige manier padveiligheid te verstaan en toe te pas.”

Die skool het hul dank uitgespreek teenoor die Ngwathe verkeersdepartement vir hul betrokkenheid, asook die ouers wat deel was van die oggend.



