Die Vaal rock vandag vir wêreldrekordpogings
Van die land se gewildste kunstenaars tree op by Rocking the Vaal.
Wat begin het as ‘n eenvoudige gemeenskapsprojek, het oor jare ontwikkel tot een van die Vaaldriehoek se bekendste feeste wat vandag by die Emerald Resort & Casino gehou word. Van die land se gewildste kunstenaars is op die Rocking the Vaal-verhoog, en gaan daar boonop gepoog word om twee nuwe Guinness Wêreldrekordpogings op te stel – ‘n poging om die meeste pannekoek nog ooit te maak, asook ‘n indrukwekkende 3 000 kg pot Chilli Con Carne.
Rocking the Vaal het sy wortels in ‘n projek wat jare gelede die gemeenskap bymekaar gebring het om saam iets besonders te skep.
Die begin van hierdie reis kan teruggevoer word na ‘n Guinness Wêreldrekordpoging vir die langste gehekelde kombers, ‘n projek wat deur die Golden Triangle Chamber of Commerce (GTCoC) geïnisieer is.
Inwoners van regoor die Vaal het serpe gehekel wat later saamgevoeg is tot ‘n rekordgrootte kombers – ‘n simboliese projek wat gewys het hoe kragtig gemeenskapsamewerking kan wees.
Daardie sukses het die saad geplant vir iets groter. Met tyd het die idee ontstaan om gemeenskapsdeelname, musiek en kos saam te bring in een groot gebeurtenis. Só het Rocking the Vaal begin groei tot ‘n fees waar mense nie net kom luister na musiek nie, maar self deel word van die ervaring.
Oor die jare het Rocking the Vaal bekend geraak vir sy kreatiewe Guinness Wêreldrekordpogings wat mense direk betrek. In 2025 het die fees drie nuwe Guinness Wêreldrekords opgestel: die grootste pot pap (2 334 kg), die grootste bediening kebabvleis van drie kilometer lank en die meeste mense wat terselfdertyd brood gebreek het. Hierdie projekte het duisende mense laat deelneem en die Vaal-gemeenskap internasionaal onder die kollig geplaas.
Intussen het die fees ook gegroei tot ‘n belangrike musiekgeleentheid waar van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars op een verhoog optree. Kunstenaars soos Kurt Darren, Karlien van Jaarsveld, Demi Lee Moore, Heuwels Fantasties en Refentse trek jaarliks groot skares na die Vaal.
Vir die organiseerders bly die doel egter eenvoudig: om mense bymekaar te bring.
Maak seker jy maak vandag ‘n draai by Rocking the Vaal.

Rocking the Vaal word georganiseer deur die Golden Triangle Chamber of Commerce (GTCOC), in samewerking met Emerald Resort & Casino, wat as gasheer van die geleentheid optree.



