Onthou jy dié agterstevoor troue?
Die prettige agterstevoor troue is 50 jaar gelede in Parys gehou met die dorp se eeufeesviering.
Die spesiale bylae ter viering van Parys se 150ste bestaansjaar wat verlede week in Parys Gazette verskyn het, het baie inwoners ver laat terugdink en gesorg vir kosbare staaltjies. Dalene (Grimbeek) Bester het dié foto tussen haar ma, Thelma, wat vroeër by die munisipaliteit gewerk het, se foto’s ontdek.
Dit is geneem tydens die dorp se eeufeesviering toe selfs ‘n prettige agterstevoor troue gehou is, onthou Dalene. Sy was toe 16 jaar oud. Dalene onthou dat die dorp se landdros, mnr. Mans, die kamma-huwelikseremonie met die rolle wat omgeruil is, voltrek het. Na die seremonie is partytjie gehou waar die laerskool se sportgronde vandag is.

Thelma se man, Bert, was in daardie jare een van die dorp se verkeerskonstabels, en moes hy met tye selfs die ambulans ry. Wanneer hy uit was na ‘n toneel met die ambulans, moes die Grimbeek-sibbes help om die ambulans te was sodat dit netjies sou wees vir wanneer die volgende uitroep kom, vertel Dalene.
Dalene onthou ook die gereelde bakleiery tussen die Vrystaters en die Transvalers by die wa-brug (brug oor die Vaalrivier by die Van Collerstraat-verlenging) oor wie eerste oor die enkelspoor brug moes ry. Menigmaal op ‘n Sondagmiddag is Bert uitgeroep om die vrede by die brug te bewaar.
Kraamgevalle is daardie jare by die huis op die h/v Dwars- en Loopstraat hanteer, terwyl Die Eike-vakansieoord was waar Phoenix-woonstelle vandag is. Die Gleniffer-huis in Presidentstraat was toe ‘n spoggerige losieshuis wat aan twee susters behoort het.



