Borg geweier vir sersant in wie se huis skokgranaat, polisiedossiere gekry word
Die saak teen Nkosi sal op 16 Julie weer in die Pretoria-Noord Landdroshof voorkom, het Lumka Mahanjana, streekwoordvoerder van die NVG bevestig.
‘n Polisiesersant in wie se huis vuurwapens, ammunisie, ’n skokgranaat, dossiere van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander staatsuitgereikte items gevind is, is borgtog in die Pretoriase Hooggeregshof geweier.
Die lang lys van klagtes teen die 43-jarige sersant Fannie Ezekiel Nkosi sluit in onwettige besit van plofstof, drie aanklagte van versuim om vuurwapens te beveilig; agt aanklagte van versuim om ammunisie te beveilig, verydeling van die regspleging, versuim om ’n staankluis volgens SABS 953-1/2-standaarde te installeer en in stand te hou, diefstal en geldwassery.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het vandeesweek se uitspraak verwelkom wat die beslissing van die Pretoria-Noord Landdroshof bekragtig het om borgtog aan Nkosi te weier.
Die hooggeregshof het bevind dat die landdros geen fout begaan het deur borgtog te weier nie en bevestig dat die beslissing onder die omstandighede van die saak behoorlik geneem is.
Polisielede verbonde aan ’n taakspan wat na aanleiding van die Madlanga-kommissie saamgestel is, het Nkosi se huis in April deursoek nadat ‘n lasbrief bekom is.
Tydens die deursoeking het die polisie vuurwapens, ammunisie, ’n skokgranaat, dossiere van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander staatsuitgereikte items op verskeie plekke op die perseel gevind. ’n Groot bedrag kontant van meer as R50 000 is ook onder ’n matras versteek gevind. Nkosi kon nie bevredigende antwoorde gee oor die items wat gevind is nie.
Hy is op 22 April 2026 deur die Pretoria-Noord Landdroshof borgtog geweier.
In die teenstaan van die borgtogappèl het die Staat, verteenwoordig deur advokate Mphahlele en Sekhonyana, aangevoer dat die landdros haar diskresie behoorlik uitgeoefen het toe sy borgtog geweier het. Die Staat het aangevoer dat die landdros verskeie faktore korrek in ag geneem het, insluitend dat Nkosi ’n polisiebeampte is met toegang tot sensitiewe inligting en lopende ondersoeke, die erns van die misdrywe, en die feit dat hy toegang gehad het tot aansienlike bedrae geld waarvoor hy nie ’n bevredigende verduideliking kon gee nie.
Die Staat het verder aangevoer dat die landdros haarself nie ten opsigte van die feite of die reg mislei het nie, en ook nie haar diskresie onbehoorlik uitgeoefen het nie. Daar was dus geen grondslag vir die Hooggeregshof om met haar beslissing in te meng nie.
Regter Mosopa het met die Staat se argumente saamgestem en Nkosi se borgtogappèl van die hand gewys.



