Rowers brand los op polisielede na rooftog by winkelsentrum
Die verdagtes was met die skryf van die berig steeds op vrye voet.
‘n Groep gewapende verdagtes met klapmusse het Woensdagaand omstreeks 19:26 ‘n selfoonkiosk in die Vaal Mall-winkelsentrum in Vanderbijlpark geteiken. Die verdagtes het na bewering kontant en ’n selfoon van die kiosk beroof voordat hulle verder deur die winkelsentrum beweeg het. Tydens die voorval is skade aan twee sakepersele binne die winkelsentrum aangerig.
Niemand is tydens die roof beseer nie, en geen skote is afgevuur nie.
Volgens sersant Thembeka Maxambela, woordvoerder van die polisie in die Sedibeng-distrik, word sake van besigheidsroof, besigheidsinbraak en poging tot moord ondersoek na aanleiding van die voorval.
Verdagtes skiet op polisie
Maxambela het bevestig dat lede van die Vanderbijlpark taakspan na die voorval inligting ontvang het waarna ’n wit VW kombi, wat vermoedelik deur die verdagtes gebruik is, agtervolg is. Tydens die agtervolging langs die R57 agter CW6, het die insittendes van die voertuig na bewering op polisielede losgebrand.
Polisielede het teruggeskiet, waarna die verdagte voertuig teen ’n padteken gebots het. Die verdagtes het die voertuig verlaat en in ‘n nabygeleë veld in gevlug.
Polisielede is nie tydens die skietery beseer nie, hoewel ’n gemerkte SAPD-voertuig beskadig is.
Verdagtes op vrye voet
Maxambela het ook bevestig dat nog geen arrestasies in hierdie stadium gemaak is nie. Ondersoeke duur voort en die polisie volg alle beskikbare leidrade op.
Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, word versoek om die naaste polisiestasie of die Crime Stop-nommer by 08600 10111 te kontak. Inligting kan ook anoniem deur die MySAPS App verskaf word.



