‘Onderwys is meer as ‘n beroep’
Dit bly vir my 'n voorreg om 'n instrument in die Here se hand te wees en 'n positiewe verskil in leerders se lewens te maak," sê Anria.
“Ek is trots om nou ‘n Parysenaar te wees, en ek sien daarna uit om hier my wortels te vestig, betekenisvolle verhoudings te bou en leerders te ondersteun en inspireer in hul akademiese én persoonlike groei.”
So gesels Anria Greyling, nuweling op die personeel van Hoërskool Parys.
Anria het in Vereeniging grootgeword, en verwerf in 2025 haar BEd-graad met lof in die Senior- en VOO-fase aan die Noordwes-Universiteit. Haar spesialisering is in wiskunde en lewenswetenskappe.
Sy gee tans klas in ekonomiese bestuurswetenskappe, lewensoriëntering en besigheidstudies by Hoërskool Parys.
“Vir my is onderwys baie meer as net ‘n beroep, dit is iets wat diep in my hart lê. Ek sien dit as ‘n bediening, en dit bly vir my ‘n voorreg om ‘n instrument in die Here se hand te wees en ‘n positiewe verskil in leerders se lewens te maak,” sê Anria.

“Ek is ‘n kreatiewe mens met ‘n diep liefde vir die lewe, en probeer om daardie energie en entoesiasme elke dag in die klaskamer in te bring.” vertel sy verder. Sy is ook by die o14-netbalspan betrokke.



