Chubby Chick-verdagte na Tshepong-hospitaal verskuif
Volgens inligting wat in die hof bekend gemaak is, is die staat op 30 Junie per e-pos deur middel van ’n mediese memorandum van die oorplasing ingelig.
Die Streekhof van die Potchefstroom Landdroshof het Woensdag, 1 Julie, gehoor dat die dubbelmoordverdagte, Robert Joubert (75), reeds op 19 Junie vanaf die Netcare Jakaranda-hospitaal in Pretoria na Tshepong-hospitaal in Klerksdorp oorgeplaas is.
Volgens inligting wat in die hof bekend gemaak is, is die staat op 30 Junie per e-pos deur middel van ’n mediese memorandum van die oorplasing ingelig. Joubert het nie Woensdag in die hof verskyn nie en is tans deur Korrektiewe Dienste in die mediese afdeling van Klerksdorp Korrektiewe Dienste aangehou.
Die Gautengse hooggeregshof het vroeër in Junie toegestaan dat Joubert vanaf die Potchefstroom-gevangenis na die Netcare Jakaranda Hospital oorgeplaas mag word om gespesialiseerde ortopediese en psigiatriese behandeling te ontvang. Volgens die hofbevel kon hy vir vier weke, of vir so lank as wat spesialiste dit nodig ag, in die hospitaal opgeneem word, mits hy onder wettige aanhouding en streng toesig bly.
Christo Meiring, Joubert se regsverteenwoordiger, het in die hof verduidelik dat die oorplasing plaasgevind het nadat ’n prokureur ’n brief aan Netcare Jakaranda-hospitaal gestuur het waarin beweer is dat Joubert ’n gevaarlike man is. Volgens Meiring het die hospitaal daarna aangedui dat hulle hom nie langer wou behandel nie.
Joubert het op 17 Junie ’n operasie ondergaan, waarna hy later na Klerksdorp verskuif is.
Die saak is tot 2 September uitgestel.



