Gru-ongeluk tussen bus en taxi eis verskeie lewens op Barrageweg
Volgens voorlopige inligting was die bus onderweg in die rigting van Vereeniging.
Verskeie mense is Woensdagoggend, 1 Julie, dood en talle beseer in ’n gru-ongeluk tussen ’n Greyhound-bus en ’n minibustaxi op Barrageweg naby The Palms Shopping Centre in Vanderbijlpark.
Volgens voorlopige inligting was die bus onderweg in die rigting van Vereeniging toe dit gebots het met ’n wit Quantum-minibustaxi wat glo in Louis Trichardt Boulevard probeer indraai het.
Die impak het na bewering veroorsaak dat die busbestuurder beheer verloor het, waarna die bus omgeslaan het.
Gru-tonele het op die toneel afgespeel met verwronge metaal, glas en puin wat oor die pad versprei was, terwyl paramedici gespook het om beseerdes te behandel. Verskeie liggame is op die toneel onder foeliekomberse bedek.
Teen publikasietyd was minstens drie liggame sigbaar op die toneel, maar die amptelike dodetal is nog nie deur owerhede bevestig nie.
Verskeie beseerde pendelaars is na plaaslike hospitale vervoer vir verdere behandeling.
’n Groot polisieteenwoordigheid, insluitend lede van Suid-Afrikaanse Polsediens en Gauteng se ongelukondersoekeenheid, was op die toneel terwyl ondersoekbeamptes probeer vasstel het wat tot die noodlottige botsing gelei het.
Reddingspanne was steeds besig om die bus op te lig om vas te stel of enige passasiers moontlik nog binne of onder die voertuig vasgekeer was.
Die voorval bly in hierdie stadium onder ondersoek.



